Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 39

3 Februarie

Оглавление

Liefde onder mekaar

Lees Johannes 13:31-35

“Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” – Joh 13:34


Net nadat Hy Judas as sy verraaier aangewys het, het Jesus ’n laaste, baie belangrike boodskap vir sy dissipels: Hy vra dat hulle mekaar sal liefhê, met dieselfde soort liefde waarmee Hy hulle liefhet. Aan hul liefde vir mekaar, behoort ander mense te kan sien dat hulle sy dissipels is.

Die huwelik is die een plek waar dit die moeilikste is om jou liefde vir ’n ander persoon uit te leef. Met alle ander mense kry jy darem soms ’n blaaskans, maar in die huwelik het jy jou man élke dag by jou, behoort jy élke dag vir hom te wys dat jy hom liefhet en dat sy belange vir jou eerste kom. En dit is nie so maklik om lief te hê met die onvoorwaardelike liefde wat Jesus van sy kinders vra nie.

In Handelinge 11:26 lees ons dat die gelowiges in Antiogië vir die eerste keer Christene genoem is. Dit was heel waarskynlik omdat mense wat Jesus goed geken het van sy eienskappe in hierdie mense se lewens bemerk het. Hoe lyk dit met jou? Kan jy in alle eerlikheid getuig dat jou huweliksmaat elke dag God se liefde in jou optrede teenoor hom ervaar? Indien nie, probeer van nou af om jou man só lief te hê dat mense wat na julle huwelik kyk, Jesus se eienskappe daarin sal kan raaksien.

Here Jesus, ek kry dit maar net nie reg om my man lief te hê met dieselfde soort onselfsugtige, onvoorwaardelike liefde wat U van my vra nie. Ek bid dat U dit vir my moontlik sal maak.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх