Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 26

23 Januarie

Оглавление

Laat God toe om jou te vorm

Lees Jeremia 18:1-10

Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel – Jer 18:6


Jeremia kry opdrag om na die pottebakker se huis te gaan. Daar sien hy hoe die pottebakker uit ’n mislukte skepping ’n kunswerk kan maak. Net só, sê God, is Hy met Israel besig. Indien hulle hul bekeer, sal Hy hulle nog ’n kans gee, en van hulle dié volk maak wat Hy wil hê.

God is altyd skeppend met ons besig. In die begin het Hy ons na sy beeld gemaak. Ons was volmaak en sondeloos, totdat sonde die wêreld binnegekom en hierdie beeld geskend het. Nou word álle mense onvolmaak en sondig gebore. Gelukkig los God ons nie daar nie. Hy het sy Seun in ons plek gestuur om aan ’n kruis te sterf sodat ons sonde vergewe en ons weer heelgemaak kan word.

God is ook in jou lewe aan die werk. Soos die pottebakker ’n verkeerde pot weer kan regmaak en ’n stuk vormlose klei in ’n kunswerk kan omskep, kan Hy jou na die beeld van sy Seun omvorm.

Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit nodig dat jy self sal besluit of jy Hom sal toelaat om van jou dié vrou te maak wat Hy bedoel het jy sal wees. Indien jy gewillig is, sal jy soos Israel van ouds jou lewe en jou dade moet regmaak. Sien jy kans?

Hemelse Vader, ek wil graag hê dat U my sal vorm. Dankie dat U my sonde kan vergewe en my kan oormaak sodat ek dié mens sal kan wees wat U wil hê. Doen dit asseblief vir my, Here.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх