Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 8

5 Januarie

Оглавление

Verheerlik God in jou lewe

Lees Johannes 15:1-8

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is – Joh 15:8


Jy sal God se seën oor jou lewe vanjaar op ’n besondere manier kan ervaar mits jy jouself leer om God in alles wat jy sê en doen te verheerlik. Jy kan dit veral doen deur vir God vrugte te dra. Die doel van vrug dra vir God is juis sodat die Vader verheerlik kan word.

In Galasiërs 5:22-23 word hierdie “vrug van die Gees” breedvoerig beskryf, terwyl Die Boodskap-vertaling dit verder toelig: “Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort.” Sulke mense gee baie om vir ander. Hul lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hul teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hul lewe voer nie.

Gaan die lysie hierbo noukeurig deur en sorg dan vanjaar dat hierdie eienskappe in jou eie lewe raakgesien kan word. Só kan jy verseker dat jy nie net God in jou eie lewe sal verheerlik nie, maar dat ander wat na jou kyk, dit ook sal doen.

Hemelse Vader, ek bid dat U die vrug van u Heilige Gees in my lewe sal insleutel sodat elkeen van die eienskappe daarvan in my lewe raakgesien sal kan word, en U so verheerlik sal word.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх