Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 11

8 Januarie

Оглавление

Leef soos ’n Christen!

Lees Filippense 2:12-18

Toe ek by julle was, het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen noudat ek nie meer daar by julle is nie? Onthou, God hou julle dop. Doen daarom alles wat julle kan om te leef soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke – Fil 2:12-13, Die Boodskap-vertaling


Terwyl Paulus onder die Filippense gewerk het, het hy ondervind hulle luister met aandag na hom. Tien jaar later tree hy weer met hulle in verbinding en vra dat hulle ook noudat hy nie meer by hulle is nie, sy voorskrifte sal nakom. Hy waarsku hulle dat God hulle dophou en versoek hulle om soos ware Christene te lewe omdat God persoonlik by hul lewens betrokke is.

In hierdie Skrifgedeelte kry ons twee belangrike voorskrifte vir die nuwe jaar wat jy ook deel van jou Nuwejaarsvoornemens behoort te maak: “ons behoort soos kinders van God te lewe” en “ligdraers te wees deur sy woord uit te dra”. Wanneer jy tot bekering kom, is alles nog nie afgehandel nie. Nou moet jy jou daarop toespits om soos ’n verloste te léwe en die evangelie uit te dra.

Paulus vertel die Filippense ook presies hóé dit gedoen behoort te word: “met eerbied en ontsag” en “sonder kla of teëpraat” (Fil 2:12,14). As jy gewillig is om te probeer, sal God jou self gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Hemelse Vader, help my om vanjaar soos ’n kind van U te lewe, om ’n ligdraer te wees en u Woord uit te dra. Ek wil dit graag met eerbied en ontsag en sonder kla of teëpraat doen. Maak dit vir my moontlik asseblief.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх