Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 9

6 Januarie

Оглавление

Nog baie meer

Lees Efesiërs 3:14-21

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid – Ef 3:20-21


Miskien droom jy daarvan dat jou ideale vanjaar verwesenlik sal word, dat jy jou drome waar sal kan maak in die nuwe jaar wat voor jou lê. Aan die einde van ’n jaar ontdek ’n mens mos baiekeer dat die meeste van jou drome aan flarde lê, dat jy moedeloos is omdat teleurstellings so dikwels oor jou pad gekom het en jy so baie maal misluk het.

Laat God toe om vanjaar sý wil in jou lewe uit te voer. Maak gerus op sý krag staat in plaas van op jou eie. Laat Paulus se ontdekking jou eie word: Deur Gód se krag wat in jou werk, kan jy jou situasie omkeer. Onthou net dat jy naby God behoort te lewe as jy sy krag tot jou beskikking wil hê. God is magtig om nie net jou drome van vandag waar te maak nie, maar om oneindig méér te doen as wat jy bid of dink. God se agenda is altyd veel groter en heerliker as jou eie. Vanjaar kan jy daarvolgens werk en seker weet dat jy tot álles in staat sal wees deur Hom wat jou krag gee. Maak net doodseker dat jy die eer wat Hom toekom aan Hom gee.

Here, dankie dat ek aan die begin van ’n nuwe jaar op u krag kan staatmaak, dat ek kan weet dat U magtig is om oneindig méér te doen as wat ek kon droom of bid of dink.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх