Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 14

11 Januarie

Оглавление

God rondom jou

Lees Psalm 139:1-6

U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip – Ps 139:5-6


Terwyl ek en my man op ’n klein Vrystaatse dorpie optree, sit ons vriendelike gasvrou ’n kaartjie met die volgende woorde op my kopkussing:

“God is voor my, Hy sal my altyd lei;

God is agter my, Hy waak altyd oor my;

God is langs my, om my troos te wees;

God is om my, ek hoef niks te vrees.”

Watter ongelooflike belofte om die nuwe jaar mee in te gaan! God is voor jou – jy kan dus elke dag met groot vertroue op sy leiding staatmaak vir die probleemareas in jou lewe. Met God agter jou kan jy in gevaarsituasies op sy beskerming aanspraak maak. Met God langs jou kan jy verseker wees van sy troos en bystand in tye van hartseer. Met God rondom jou kan jy met vertroue élke vrees en bekommernis aan Hom oorlaat. Wanneer ’n mens daaroor nadink, kan jy nie help om met die psalmdigter saam te stem nie: “Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip” (Ps 139:6).

Neem gerus die woorde van ons kaartjie saam op jou pad van die nuwe jaar. Dan sal jy toegerus wees vir enige gebeurlikheid, dan sal jy elke dag bewus wees van God se seënende teenwoordigheid in jou lewe. Dan kan jy maar jou vrese en bekommernisse oor die jaar wat voorlê met groot gerustheid in God se hande laat met die sekere wete dat Hy vir jou sal sorg.

Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat U my van alle kante omsluit – dat alles wat met my gebeur, eers by U sal moet verbykom. Ek loof U vir die belofte dat U vanjaar rondom my sal wees.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх