Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 7

4 Januarie

Оглавление

By fonteine langs

Lees Jesaja 49:8-13

Hulle sal nie honger of dors kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by fonteine langs lei – Jes 49:10


In Jesaja 49 kry ons die allermooiste beloftes by monde van die profeet Jesaja: God se volk sal nie langer honger of dors ly nie, want Hy self sal hulle onder sy sorg neem, en hulle by fonteine langs lei … Hierdie is sekerlik een van die heel mooiste Skrifgedeeltes om aan die begin van die jaar te oordink en heeljaar saam met jou te neem.

God belowe hier sélf om sy volk se gebede te verhoor. (Let wel dat Hy ’n voorwaarde gee – die verhoring van hul gebede sal geskied op ’n tyd wat Hý goeddink! – vgl vers 8.) Hy onderneem verder om hulle te beskerm, om sy verbond met hulle te hernu, om hulle te versorg en in al hul behoeftes te voorsien. Hulle sal nie honger of dors kry nie, want hul God sal hulle by fonteine langs lei, Hy sal self vir hulle uitkoms gee.

God se beloftes in sy Woord is steeds aan die adres van elkeen van sy kinders gerig. Wanneer daar dalk vanjaar woestyntye in jou eie lewe opduik, mag jy aan God se beloftes in Jesaja 49 vashou … Hy sal vir jou onderneem, Hy sal op sy tyd jou gebede verhoor, Hy sal jou beskerm, jou versorg en in elkeen van jou behoeftes voorsien. Hy onderneem om jou vanjaar by fonteine langs te lei. Vertrou Hom daarvoor!

Hemelse Vader, baie dankie vir u belofte dat U vanjaar vir my sal onderneem, dat U my gebede sal verhoor, in elkeen van my behoeftes sal voorsien en my by fonteine langs sal lei.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх