Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 19

16 Januarie

Оглавление

Verander jouself positief

Lees Efesiërs 4:17-24

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig – Ef 4:23-24


Gister het jy ontdek dat God jou wonderlik gemaak het; dat dit dus in orde is om jouself te wees, want jy is goed genoeg nés jy is. Tog is daar terreine in elke mens se lewe wat kan doen met positiewe veranderings. As jy kan leer om vanjaar deur God se oë na mense en omstandighede te kyk, om nie terug te deins vir nuwe uitdagings nie, maar hulle te omhels en bereid te wees om van jou probleme trappe na ’n nuwe lewe te maak, gaan jy vanjaar altyd as ’n hoogtepunt in jou eie lewe onthou.

Positiewe verandering begin altyd by jouself. As jy graag die wêreld wil verander, kyk éérs of jy nie dalk verandering nodig het nie. Gandhi het graag gesê: “Ons moet die verandering wórd wat ons in die wêreld wil síén.” Gaan sit en skryf dié dinge neer wat jy graag in ander mense sal wil verander: dat hulle vriendeliker sal wees; meer vergewensgesind; liefdevoller; nie so krities nie; geduldiger … Neem nou jou lysie en begin self só leef. Vra die Here om jóú vriendelik, vergewensgesind, liefdevol en geduldig te maak. Wórd self die verandering wat jy graag om jou wil sien. Binnekort gaan mense wat na jou kyk, jou voorbeeld begin volg. En dan gaan ons wêreld ’n veel beter een wees!

Here, ek bid dat U van die wêreld ’n mooier, veiliger, vriendeliker plek sal maak, en dat U by my persoonlik sal begin. Ek wil graag die verandering word wat ek by ander wil sien.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх