Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 20

17 Januarie

Оглавление

Wag op God

Lees Jesaja 66:1-13

Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan, sê die Here. Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord. Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel – Jes 66:2, 13


Elke keer wanneer jy jou Bybel oopmaak, praat dié God wat die wêreld gemaak het, wat die sterre name gegee het, wat die skepping elke dag onderhou, met jóú persoonlik. Dit is nodig dat jy die nodige ontsag vir sy Woord sal hê, jou Bybel nie sommer maar op enige plek sal oopslaan om gou ’n paar verse te lees nie. Jy behoort fyn te luister na dít wat die Here vir jou in sy Woord wil sê, en te onderneem om die dinge te doen wat Hy vir jou in sy Woord vra.

Vandag is God se boodskap aan jou dat Hy op jou ag sal slaan mits jy jou sonde bely en ontsag het vir sy Woord, dat Hy jou veilig wil laat voel soos ’n besorgde ma dit vir haar kind doen.

“Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig,” staan daar in Spreuke 9:10. Maak baie seker dat die boodskap wat God vandag regstreeks aan jou rig, nie dalk by jou verby sal gaan nie. Dink daaroor na, en antwoord God op sy Woord. Moet jou Bybel nooit sónder ’n gevoel van afwagting lees nie. Sorg dat die bestudering van jou Bybel, die luister na God se stem, die wag op Hom, ’n onlosmaaklike deel van jou lewe sal vorm.

Vader, dankie dat U met my persoonlik praat wanneer ek my Bybel oopmaak. Help my om ontsag vir u Woord te hê. Maak my sensitief vir u stem en bereid om U te gehoorsaam.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх