Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 5

2 Januarie

Оглавление

’n Jaar van genade!

Lees Jesaja 61:1-11

In my trou sal Ek my volk gee wat Ek beloof het. Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit. Julle sal in julle land twee keer soveel besit as tevore en julle sal altyd vreugde hê – Jes 61:8, 7


Jesaja verkondig hier ’n blye boodskap aan sy volk wat in groot nood verkeer. Ná hulle terugkeer uit ballingskap gaan dit baie sleg met hulle. Armes word uitgebuit en ellende heers oral. God gáán weer genade aan hulle bewys, belowe Jesaja. Hy gaan vir hulle letterlik ’n jaar van genade daarstel; ’n tyd van rus en vrede wanneer God se heerskappy oor alle dinge gaan aanbreek; ’n tyd van voorspoed wanneer hul besittings sal verdubbel en hulle altyd vreugde sal hê. Hy gaan ook sy verbond met hulle hernu sodat almal wat na hulle kyk, sal kan sien dat hulle ’n volk is wat deur God geseën is.

Aan die begin van ’n nuwe jaar is Jesaja se boodskap steeds op ons van toepassing. Soos dié van Israel van ouds is ons omstandighede ook nie altyd na wense nie. Die heersende misdaad en armoede in ons eie land wil maar nie end kry nie. Ons smag almal na ’n jaar van genade, ’n jaar waarin God se beloftes vir óns persoonlik waar sal word, ’n tyd van rus, voorspoed en vrede vir ál God se kinders.

Neem God gerus op sy woord. Hy belowe om jou omstandighede vanjaar te verander en vir jou rus en vrede te gee, mits jy gewillig sal wees om sy voorskrifte te gehoorsaam.

Here, dankie vir die belofte dat U ook vir mý ’n jaar van voorspoed wil skenk. Gee asseblief vir my vanjaar ’n lentegeloof in wintertyd sodat ek aan u beloftes sal vashou, al het hulle nog nie vir my waar geword nie.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх