Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 13

10 Januarie

Оглавление

Hou aan met reg doen!

Lees Spreuke 11:17-21

Wie volhou om reg te doen, kry blywende beloning – Spr 11:18


Mense wat die regte ding doen, sal beloon word, beloof die Spreukeskrywer. Ongelukkig lewe ons in ’n korrupte samelewing waar daar maar min sprake is van “reg doen”. Elke keer wanneer ons die koerant oopmaak of die nuus aanskakel, lees en hoor ons van witboordjiemisdaad, bedrog, diefstal, aanranding, kinderverkragting, dwelmmisbruik en geweld. Hierdie dinge het só algemeen geword in die wêreld waarin ons woon, dat dit ons nie eers meer werklik ontstel nie. Ons het gewoond geraak daaraan …

Dit is egter nié soos God sy skepping beplan het nie. In die begin was alles wat Hy gemaak het “baie goed”. Hy stel mense oor sy skepping aan as sy verteenwoordigers wat oor die skepping moet regeer, verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar, mekaar moet dien en liefhê. Sal dit nie wonderlik wees as ons vanjaar kan terugkeer na God se bloudruk vir die wêreld nie? As Christene oor die wêreld heen ’n wilsbesluit sal neem om reg te doen, om die skepping te bewaar, al sou dit ook beteken dat ons soms tweede sal kom. Indien jy daarvoor kans sien, sal God jou ’n blywende beloning gee: Jy sal ’n lig in die donker wêreld wees.

Daar is ’n pragtige belofte in Die Boodskap-vertaling van hierdie teksvers: “Wie vir ander mense omgee, se lewe sal vol blydskap wees.” Nie net wag daar vir jou ’n blywende beloning as jy vanjaar sal onderneem om aan te hou om die regte dinge te doen nie, maar dit sal ook vir jou ’n lewe van blydskap verseker.

Here, ek wil nou ’n wilsbesluit neem om vanjaar in “reg doen” te volhard, om hier op die wêreld ’n lig vir U te wees en u wil te gehoorsaam.

Help my asseblief om dit reg te kry.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх