Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 70
Die werf
ОглавлениеDie varkhok het nie gestink nie:
hy’t heerlik kras-suur-vrot geruik,
en die gulsige snoete in draf en karkoere
en onnoemlike modder was die wonderlikste
mees uitdagende slegte maniere denkbaar –
Ek was lief vir die varkhok ver verwyderd
aan die onderent van die werf,
agter ’n ry sipresse, en het graag op sy muur gesit
om die woeste reuk diep in te snuif
en my te verwonder aan diere so skaamteloos
vraatsugtig wat selfs met hulle neusgate vreet;
en hulle lelike swaar gesigte met die dom
witbewimperde ogies was soos iets uit Grimm
of Andersen. Ja-nee, die varke was Iemande,
soos prinse deur krom ou hekse vermom
of Circe se swyn-matrose –
Byna blind van son het ek oor hulle gedroom,
tot moddermals, so sterk en magtig-soet
deur my jong are die magiese betowering
van al my jeug se somers getrek het –
Terug in die huis:
Liewe Vader mens kan dit nie hou nie
het Ouma vroom oor die hitte geklae
en, hel maar dis warm, onomwonde
van my effens meer wêreldse ma:
hoe sou hulle verstaan dat die bloedige dag
en die varkhok
vir my ’n hemel was, ’n sprokie sonder weerga –
Ook die verlore paradys was net buite die huis:
’n groot ou pruimboom met sondige vrugte
wat net soos ons uit die hoogte geval het,
en as jy een optel kon jy betyds nog sien
hoe die kwaad weer haastig terugkruip
in die gekweste weefsels in –
O verlore werf, ek kon die hele Ou Testament
in jou vind, en die Griekse legendes en Andersen.