Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 81

Man met ’n vlieër

Оглавление

Vir Juan

Hy staan eenkant, enkeld, alleen,

dwingend vertikaal, ’n vlagpaal, ’n mas,

’n altaar, ’n stapel geheime wat deur sy bloed

terugreik na watter verledes, volkere,

hartstogte, drome, visioene

en far-off unhappy things . . .

Sy klere wimpel om sy lyf:

lewende mas op ’n berg in die wind.

Watter vlae trek deur hom op

langs sy arms tot in die dun tou

wat deur sy vingers vinnig al hoër

onsigbaar klim na die klein kleurvlak

geometries suiwer, ’n uitroep

of ’n eensame ver weemoed, ’n uiterste

onsegbaarheid rooi teen blou:

bloed, moed, sein, seil in die asuur –

Watter vergete vaarders, vissers, onthou

die deining van hierdie middellandse see

in die ritme van sy polse?

Die lig eet aan sy glans, sy omtrekke,

sy gebruinde rossige huid,

en sy gesig is ’n offer aan die son.

Hy speel met sy vlieër soos ’n kind

maar daar is ’n verwikkelde erns in die spel

en ek wonder of hy dit weet . . .

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх