Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 76

Klein ballade

Оглавление

Ek soek die huis van ’n timmerman,

ek soek die tafel, die eenvoudig gedekte,

en die bêreplek van die botterspaan

van Maria die Onbevlekte.

Ek soek die dinge van hulle elke-dag,

ek soek die praat en die maklike lag

in daardie gebenedyde huis:

Neem hierdie pad, klop aan dié deur,

na buite toe dwaal ’n varsbroodgeur,

en sê nou hulle is tuis?

My moed begeef my en ek vlug,

maar iets sê in my gaan trug, gaan trug:

Sy staan reeds in die deurkosyn . . .

Toe draai ek om en ek vind verstom

ek het voor my eie deur gekom:

my huis is Hare, my huis is Syne!

Nou ken ek die huis van die timmerman,

ek ken die tafel, die eenvoudig gedekte,

en die bêreplek van die botterspaan

van Maria die Onbevlekte.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх