Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 71

Die motorfiets

Оглавление

Verlepte geel laphoede van pampoene

loer nuuskierig paprand

tussen bebaarde dissels deur

waar honde-pie en kakiebos meteens

orenter staan van voorgevoel:

’n afbeen-sprinkaan hink die dorpspad

agterna, wat rinkhalsnekgerek

doer in die verte iets bespeur –

en als is stilte, hitte, langoor-husse bang gespits . . .

en dan, o heerlikheid, dan spat

die lug in bloubordskerwe uitmekaar

en honde-pie, pampoene, dissels gryp

vervaard laphoede, pluime en bosgasies vas

want links, regs, knal – o oordeelsdag –

’n flou-van-word verruklikheid –

dan poep-poep-poep die Ding

al dowwer weg en daal die rus

maar weer half valerig neer soos as.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх