Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 86

Kombuis van Hera

Оглавление

I

Hoe sal die ouvrou ouer as oud

hoe sal die stoof swarter as koud

hoe sal die hande sonder die hout

sonder die suiker sonder die sout

sonder die meel as die meel het drade

sonder die eiers as die eiers is vrot

sonder die skottel as die skottel het gate

hoe die koek bak geler as goud

wie die skuld hê waar die fout?

Roep die pou die pou se vure

roep die iris en die helder ure

roep die gans wat raaisels praat

orakel hy dan het ons raad

en is die koekoek ’n hen-koekoek

bak Hera weer besweringskoek.

II

Toe roep my ma om my te stuur

net voor sy wegwring in ’n baksteen

soek jy die grot klim jy die seemuur

en kyk daar raak totdat jy raaksien

– en sit voor hulle neer die skottel en die beker –:

die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:

die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker –

dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek.

Toe met sewe oë

kyk hulle my snaaks aan

waar ek meteens beteuterd

in die seekombuisgrot staan:

ek lees die waarheid in hulle blik

en voel my aardig koud:

wat anders is die suiker en meel

die eiers en melk – vergeet nie die sout! –

as net jouself en jou menslikheid:

en is jy met vuur vertroud?

Maar goedig is die gode, my dom bestanddele

was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand

en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:

ouvrou, kind en gans, koekoek, net effens aangebrand . . .

O neutvars kind met die voorskootklere

met die warm wang en die sywurmhare:

ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep

en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх