Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 78

Gestaltes

Оглавление

Eenmaal het hulle ruiters gesien

vroeg een aand in die weste –

hulle wat die perd nie geken het nie –

en verwonderd van mond tot mond

het gerugte gegaan

van ’n fabelwese, half dier half man . . .

Sou iemand hom my ook verbeel het

of lewe ek régtig?

Wie smag na hoogtes en kletter

die onherbergtes deur en smág

na hoogtes: storm kop omlaag

as hulle my toestaan, vlug

vir die hand met die halter . . .

Daar bó wie dwaal in ’n dwaal

die seer en die graag hier binne

’n gemengde brand van heuning:

vrý, tussen klippe en knot-olyf

en haal ’n ánder asem en klouter séker . . .

dog ook altyd aan die aarde

gesplete vasgeanker

en altyd voor my op die grond

dié skaduwee op horings?

Dan staan ek hangkop stil en luister

na die zoem van die wilde korf in my

en weet maar net verward

dat ek dankbaar is vir die pyn van die bergbok,

die hart van die halfgoddier.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх