Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 85
Antieke wandeling
ОглавлениеEk verlustig my speels in die gode,
loop graag die bokpaadjies
van die skrik en bygeloof, en haastiger
verby gate in die grond en grotte –
Ou kruike uit hierdie see
wat die bruin vissers nog steeds ophaal
saam met inkvis en krewe, dié dink ek terug
soos hulle moes gewees het eenmaal
glad en nuut gevorm nog nat op die potgooi-wiel
om later blink van glasuur, die wyn
en die olie te hou en die skoon graan –
Maar op dieselfde paadjies
getrap in dié aarde in deur geringe
en vlugtige spore van diere, en herders
met oeroue bekommeringe:
steentyd-drome, gelowe en bygeloof, ou vrese,
rate en raad en veel ook van kwaad:
alleen met die roosmaryn- en tiemiegeur,
die klippe en skulpe wat skedelig rond is
en skyn: in daardie lig bokhoog bokant
die getyelose turkooisblou see,
word ek ruim en leeg en skoon van gode,
van kwaad en goed, van helde en heiliges
en idiote, van als wat mink of vermink is
vreeslik of skoon is . . .
Totdat die wind my weer dwing om te luister
na wat die grasse fluister om die knikdans
van dissels – Dan hoe swerm die ou geheime
weer terug, hoe róér die donker bronne
onder die denke waar die potige Graeae hou
en Aphrodite die wit mossel:
hoe tuur die gate in die grond en die grotte
en die geel oog van ’n skielike bok.