Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 10
Moedertjie-Meisietjie
ОглавлениеMoeder, was jy maar my moeder,
maar jy’t ’n minsame meisietjie gebly.
Nou dra jy die ou jas van ouderdom
asof dit ’n tawwerdjie uit die twintigerjare is,
verspotte vrou. Kyk in jou verskilferde handspieëltjie:
daardie verkreukelde papawermond,
het dit kindervoorkoppies gesoen?
Ek, al by die veertig, vryf soms,
ingedagte, stuifmeel af, doodverbaas om geen
giftige geel op my vingertoppe te vind nie.
Ek onthou, moeder, jou skalksheid,
met skaamte. Jy was ’n guitige roos
vir my vaders, ja, jy wat my as pap
baba uitgestal het, wat met my wou popspeel,
jy. Op my beurt vertoon ek jou
aan vriende. Kyk, sê ek, ’n verwelkte meisie
op ’n stokkerige stengel. Treurig? Nee. Sy koketteer
met haar slap wit blare. Sy loer,
maar, o, die plooitjies trek seer om die ooghoeke,
die blare trek los van die kroontjie, en val.
Nou’s jy my poppie, moeder. Doedoe,
poplapmoeder, jou semellyf is klonterig
uitgemergel van sensasie snags. Toe maar,
toe maar, net ek en my vaders, net ons
weet hoe jou liggaam onder jou nagjurk lyk.
Doedoe. Doedoe. Doedoe.