Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 4

Оглавление

Tolk van die stomme aarde

“[N]êrens / praat die stomme aarde meer sy kode / vir die onontvanklikes.” So lui die slotreëls van die gedig “Die stomme aarde” uit Wilma Stockenström se bekroonde bundel Van vergetelheid en van glans (1976).

Reeds in Stockenström se debuut, Vir die bysiende leser (1970), word die mens voorgestel as ’n stommerik wat nie gevoelig is vir die boodskappe van die heelal nie en nie die geheimtaal daarvan kan ontsyfer nie. Gevolglik kom dit vir die selfbehepte mens voor asof die aarde ontoeganklik en meedoënloos is. Die “onontvanklikes” het verder ’n gebrek aan ’n historiese bewussyn en ’n tekort aan visioenêre vermoëns. So gee “Dwaas met bril” te kenne dat die ek-spreker se visie verskraal is tot ’n kortsigtige ingesteldheid. Wat hier en elders in Stockenström se oeuvre gebied word, is ’n onverskrokke voorstelling van die egosentriese mens wat in ’n “eie wêreldjie” wandel en die kosmos aantas – onaangeraak deur die grootsheid en skoonheid daarvan.

Die priemende deurskouing van die mens word voortgesit in die bundel Spieël van water (1973). Die spieëlmotief van die titel vind neerslag in vele refleksies – sowel weerkaatsings van die werklikheid as oordenkinge daaroor. Beelde van stad en land word aangevul met sosio-politieke perspektiewe, terwyl daar besin word oor verganklikheid en die moontlikheid om deur (her-)skepping aan die vergetelheid te ontkom. In aansluiting by gedigte soos “Moedertjie-Meisietjie” in die debuutbundel is daar voorts ’n reeks spieëlbeelde van uiteenlopende vrouefigure (soos ook later in Spesmase): van die dogtertjie in die tuin in wie se oë “momentele onsekerheid vervang word / deur die almag bewustheid van ’n klein koningin” (“Donskoppie”), tot die statusbewuste, vervelige “Mevrou professor doktor Edelvrot” wat “Offriekôns” besig en tennis én toneel speel (“Je suis arrivée”). Hoewel die digterlike blik ontmaskerend is, spreek dit nie van ’n selfversekerde houding nie – spot, ironie, parodie en satire word getemper met deernis.

In ooreenstemming met die titel Van vergetelheid en van glans (1976), bestaan Stockenström se derde bundel uit twee afdelings, ingelei deur onderskeidelik “Winterslaap” en “Glansspreeubekentenis”. Terwyl die papie toegekapsel is in die “ruime eensaamheid” van ’n kokon van selfgenoegsaamheid en slegs soms “effe rusteloos” na die wand tas (“Winterslaap”), wip-wip die glansspreeu “van waarheid verlig / na duister skadu en ondeug”; heen en weer tussen “goddelikheid” en “vergetelheid” (“Glansspreeubekentenis”). Meer as in enige van haar ander bundels verken Stockenström hier in klassiek geworde verse die landskap, mense, geskiedenis en mites van Afrika. In “By L’Agulhas ’n wandeling” spreek die ek-spreker die wens uit om ’n “geskiedenis wat verbyvaar” op te teken en ’n “laagwater van monsters” bloot te lê, maar “dit hier, / kaap van naalde, is die aanvang van ’n afrika / wat nog so vriendelik niks prysgee”. Hoewel die afsydige vasteland alle pogings tot beskrywing teenstaan, kry die San-kunstenaar dit tog reg om met ’n “klein-klein handjie” en eenvoudige middele die groot eland tot lewe te wek en te verewig op die klipwand van die grot (“Die eland”). Maar daardie hand wat skep, is dieselfde hand wat die pyl “in slang en gifbol se gif” doop en die boog span – nie net om te jag nie, maar ook om uit te reik na die metafisiese. Die uitreik of reis na ’n ander dimensie (kosmos, dood, ewigheid?) word ook uitgebeeld in die apokaliptiese siklus “Vlug en aankoms”. As “verworde dier” betree die mens ’n “nuwe land”, ’n “[n]uwe aarde”, waar aspekte van die persoonlike en Suid-Afrikaanse geskiedenis gerelativeer word en ’n ander kodestelsel heers. Tog sal die son ook hier “afgetrokke” die “afgekoelde kind se skurwe wang koester”, daardie kind wat om ’n “as van eensaamheid” draai.

Die 52 genommerde, ongetitelde gedigte van die bundel Monsterverse (1984) verskaf almal voorbeelde of eksemplare van monsteragtige menslike gedrag. As sodanig is die “monsterverse” in wese “mensverse” (vir laasgenoemde term gaan kopknikke na T.T. Cloete en Breyten Breytenbach). Met die uitsondering van enkele gedigte, soos byvoorbeeld “Arme hulpbehoewende monsters!”, is die monsters in die bundel nie uitgediende mitologiese wesens soos drake en naglopers nie, maar insekkies of ander klein diertjies: ’n aanmatigende, aandagsoekende kriek wat ’n sprong van “klip na son” waag “ten aanskoue van die sittende krieke” (“Die ontdekkingsreis van die kriek”); ’n verleë kluisenaarskrap wat die “weggooiwonings” van weekdiere betrek, “beteuterd” aan sigself verbonde bly en die skulp van erfsonde saamsleep (“Die kluisenaarskrap op my kriewelrige palm”); of ’n mantis met “opgehewe kleine klou” en “wankelpote” wat die “bitter verkondiging” van ’n doemprofesie oordra (“Die hotnotsgot tik teen die ruit”).

Die Heengaanrefrein (1988) is as opdragwerk geskep ter herdenking van die koms van die Franse Hugenote na Suid-Afrika. Binne die bestek van sewe afdelings en sewe-en-dertig bladsye word die geskiedenis van die Hugenote as gevallestudie benut om kritiese vrae te stel oor die praktyke van die “vernuftige aggressiewe primaat, die mens, / befaamde klipkop met orige vingers”, wie se “halsstarrige reik na suiwerheid in die toekoms” (afdeling III) meermale gekenmerk word deur venyn en verwoesting. Die besinning oor die kom en (heen-)gaan van Homo sapiens en dié se plek in die heelal word in die voorlaaste afdeling, “In ’n taal praat”, gevoer tot ’n verkenning van die ontstaan van Afrikaans, waaraan die Hugenote nie veel deel gehad het nie maar hul nasate wel. Die uitgelate spel wat hier in en met die taal gespeel word, is een van assosiatiewe verspringing, van die bons vanaf een beeld na ’n ander: die eiertjie in die mond van die mondbroeiervis word uitgespoeg, dit word ’n bal, dan die aarde wat soos ’n emmervol klanke aan ’n reënbooghengsel hang, totdat daar in die slot sprake is van “die groot eier” wat op die “oop / wonderlik triestige venynige bont veld” lê. Uit die bodem van Afrika het die “moddertaal” tot “moedertaal” ontwikkel.

Aan die Kaap geskryf (1994) is ’n bundel ongetitelde verse wat in en oor die moederstad geskryf is en aan haar gerig is. Die boekstawingsproses neem vele vorme aan: dit is liefdesbrief, loflied, joernaal, reisverslag, geskiedskrywing, klagskrif en elegie. Die verpersoonlikte stad word in al haar skoonheid en verval voorgestel, soos in die gedig “Die stad se bors trek toe”. Wanneer sy van die rookmis kug, doen sy dit “betaamlik soos ’n dame”, maar andersins is sy ’n uitlokkende prostituut wat nie besonder sindelik en fatsoenlik is nie; met haar “pienk / panty” is sy “meer as net geskiedenis”. Naas die bonte mengelmoes en karnavaleske uitbundigheid van die stad, is daar ook “dinge wat hulself wegsteek in holtes”. Dit blyk byvoorbeeld uit die oopgebreekte grou klip in die museum wat die pers skittering van ametis blootlê. Eers wanneer die verborgene aan die lig kom, kan die bestaan en wonder daarvan erken en in taal bestendig word: “Alles is eers wanneer beskryf. So is dit.”

In Spesmase (1999) word die beskrywing voortgesit deurdat vae gedagtes, vermoedens en veronderstellinge in (digterlike) taal beslag kry (“Oewergedagtes”) – maar nie as allesomvattende waarhede nie. Die onsekerheid en voorlopigheid blyk veral uit herhaaldelike vrae, soos byvoorbeeld in “Kolganse”, oor die “kwaai spektakel” van voëls wat mekaar byt “bo in die lug”: “Was dit ’n vlug van verbeelding / dwarsoor ’n vel papier? / Was dit? Was dit demone?” Werklikheid en fiksie skuif hier oormekaar. In “Ek en aas” is daar ’n sonderlinge naasmekaarstelling van mens en monster in die verbandlegging tussen ’n “twintigste-eeuse redelik beskaafde volgens Westerse / norme vrou en dinge van ’n seegedrog” soos rooi-aas. Deur hierdie onromantiese, ontluisterende selfvoorstelling word ’n eiesoortige vroulike identiteit geproklameer en die “wonderbaarlikheid van liggaam” gevier.

As tolk van die taal van berg, ster, dier en voorgeslag wend die digter haar nie tot “mooiskrywerig”-heid nie (“Ek en aas”), maar benut sy ’n “gedronge beeldspraak en geskubde taal”, soos J.C. Kannemeyer dit stel.

Hierdie keurbundel lewer oorvloediglik bewys dat Wilma Stockenström een van die ontvanklikste optekenaars is van die kodes van die “stomme aarde”. Haar vertolking van die raaiselagtige boodskappe is eerlik en sober, soms bruusk en brutaal. Maar van ’n verbysterende sublimiteit.

Ronel Foster

Die stomme aarde: 'n keur

Подняться наверх