Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 6

Dwaas met bril

Оглавление

Die verslae vrou in my bril se raam

vra ek beleefd om uit te klim.

Sy doen dit nie. Daarop

bêre ek die nuttige toestel in sy huisie.

Ek kis die vrou

telkens as sy met haar vinger

tekens trek oor my lense.

Wandel ek dan deur gouddeurweefde strate

in akwamarynaande van mymering

wat my wasig omhul, wandel ek dan

in my eie wêreldjie

waarin kleure plets en biggel,

dis knus, dis goed, en ten minste my eie.

My medemens het sagte kontoere.

Ek gaan my bril vir spesiale geleenthede hou,

net wat welskape en vermaaklik is, beskou.

Maar knaend waar ek kyk, die vrou.

Sy sper haar kake oop,

wyer as God is Liefde en Waarheid.

Soos sprinkane haar wriemelende vingers. Sy stop

hulle in haar mond, en kners

om nie te skreeu, mompel,

vlerke, saagtandpote tussen die lippe.

Voor die blinkende kolle

wat my gesig tot perspektief dwing,

voor my vensters reg rondom

wat sonwarmte binnelaat,

beduie die vrou met my gebare.

Die wolke dryf soos rôe verby.

Die pienk kwal van die son betas

my glasverdieping met ’n sleepsel garedrade,

en in rooskwarts versteen

staan my kake oopgesper

in ’n skreeu:

glaslose diamant wat die glas

gillend sny.

Die stomme aarde: 'n keur

Подняться наверх