Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 24

Die inbraak van die mamba

Оглавление

Om die huis op die heuwel van die waterskeiding

slaan die mamba sy riemdun jaartse om,

rol sy rubberlyf rats in ringe

om die regop tol van die dubbelverdieping.

Sy tong luister tastend, toetsend, by sleutelgat,

by diefwering. Dan, op die asbesteëldak

druk hy hom snel by die kaggelskoorsteen

in, gly glimswart deur roetswart af.

Toe loei die alarm oor wonings wat hurk

agter bloeiende heinings waar die paaie vurk.

Die howe se deure slaan toe, en middeldeur

skeur die tempel van geld se voorhang.

In die lesingsale gaan die ligte uit. In die warm

skagte wel die water glinsterend op, stoot

kringend uit en oor die goudgevratte stad.

Voltooi was die mamba se taak. Hy

rig hom swaaiend op langs die bed, kyk

klippiesoog na die man wat die waters

skei, en lê sy koue ken op die wit strot.

Die stomme aarde: 'n keur

Подняться наверх