Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 20

Ou gebou

Оглавление

Verweerde gebou, onbeskut op ’n besige hoek,

leun ek agteroor met blouspieëlende oë,

weerloos teen die aantog van voetganger en motoris.

Liefs neem ek die lewe in breë trekke waar. Motors

in roomyskleure om skewe kerke. Vragmotors

belaai met karkasse of kopkool. Konvooie lotelinge.

Bewyse van welvaart. Soms in parke

’n somerstorm van stuiptrekkende plante. Daagliks

die kontrapunt van skoppelmaaie. Bewys van vrede.

Afkyk het ek afgeleer: net wie nog jonk is,

kyk met durf in die gesigte van mense.

A, dat die slopers kom om my oë uit te slaan!

Genoeg het ek gesien. Oorbodige bepeinsinge

bewaar in my kamers, ek, argief van gistergerigtheid,

oumensbewend onder my dun laag dagha.

Die stomme aarde: 'n keur

Подняться наверх