Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 11

Lêer van ’n leeftyd

Оглавление

In koddige kinderhandskrif: nimmermeer,

nimmermeer sal die maan ’n kommetjie melk

vir swartkatnag wees, die son nimmer-

nimmermeer ’n lemoen vol gelukskyfies.

Dit was tyd om op te hou prentjies teken.

En dié tyd toe sterre takke was oortrek

met bloeisels en skoelappers vir verliefdes

om mekaar mee toe te dek, dié tyd

het vlug soos die swaai van ’n tak oorgewaai.

Hierop word die spekulasiehuis gekoop vir die bewoner

wat sy gewoontes aan die gewoontes van die bure gespe,

en sy grasperk dieselfde groen as die buurgrasperke hou.

En wat sy bure onthaal soos sy bure hom onthaal.

Wat sy kinders skool toe stuur om skool te gaan.

En wie se kleinkinders ver reis en ver studeer.

Gevolg deur ophou. Ophou kennis neem van

en aandag bestee aan en in ag neem van.

Ophou optel. Syfers. Gewig. ’n Lepel.

Ophou slaap, lag, liefkoos. Ophou.

Om in ’n sonnige stoepdroom te dut

voor ’n blou huis met vrede op die hekkie,

met selonsrose en ’n spaarkamer vir die uitgespaarde.

Dan, berese en belese, skerpsinnig en vinnig

stamp die kleinkinders die deure oop,

vind vermaak in vermolmde dokumente,

proes oor doopnaam en datums,

die poses, potsierlik, van kamermaats op kiekies,

en vergeet gou, en verveel hul, en verbrand:

die kwitansies, die kontrakte, die knipsels.

Pret vir ’n aand was die leeftyd van ’n mens.

Die stomme aarde: 'n keur

Подняться наверх