Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 19
Die klip
ОглавлениеTeenaan ’n oupa van ’n ou klip
het ek gaan platsit, toevallig, en die muf
ingeadem van swamme en spore.
Waaraan, wonder ek, meet ’n mens
’n klip? Waar omtrent begin
’n klip, en waar eindig
’n klip, soos die klip waarteen ek leun?
Klippe is vir almal. Slakspore
en pluisies spinnerak in holtetjies
dui aan dat my klip as herberg
dien, en dat ek, sou ek die krag
hê om hom met ’n stewige paal
om te rol, ’n plat nes vir ’n slang
sou vind, of die ryskorrels van miereiers.
Die klip wys sy gesig vir die wêreld.
Hy het nie hande om voor sy gesig
te hou nie, en is aangewese op my goedheid.
Wawyd wakker, maar weerloos, lê
die klip en luister of ek hom gaan kwaad doen.
Hy het nie ’n mond om my te verwilder nie.
’n Mens sou dink hy is gedwee.
Klippe is soms hoeders van fossiele,
van ammoniete, soos iets ontluikend
in ’n klipliggaam; van blare
tot blote blyke van sigself gepers;
van profetiese vistekens; van
skedels en kootjies van vleisvretendes.
Klippe is skatkamers van kristalle.
Klippe is vol splinterheerlikheid,
driftig gloeiend asof seewier versteen het,
asof ’n krisant binne-in hulle
verstar het en hul gelaai het met die kleur
van woestyne en vygies, die gruwelkleure
van die grillige nagkuns van drome,
en die rooi van trukaatsers.
My klip, my klip, sê my in jou stomheid
wat jy bewaar. Sê my
of jy jeug geken het, en of jou middeljare
broos en puur was, gepoleer was
en geskuur tot suiwerste karaat.
Of is om klip te wees om oud te wees,
te gewees het, en te weet jy sal dit altyd
wees? Is oud wees klip wees, hard,
maar blootgestel aan skoppe en verwering?
Klip, my klip, die bloukopkoggelmander
waak oor jou! Die bossies verwarm jou!
Die sand stuif ’n laken oor jou!
Die slak versier jou met silwer kettings
en die spinnekop verpleeg jou!
Ek sal weer kom.