Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 22

Veldverhaal

Оглавление

Onder die siftende geure van apiesdoring

en die driedoringboom by die dam

met rimpelende lig, by die skraps

vee, vir die man in hempsmoue,

in die broeiende veld, die voorvaderlike

uitgetrapte polletjiesgrasveld,

klipperige bed van geboorte en dood

van geslagte en geslagte vaal helde

wat na dip en tabak ruik,

bed met die blou laken van onvoorwaardelike

vervulling, bed breed soos ’n skoot:

die bloedlelie kom op langs die pad,

die heuningby vlieg uit die korf van die dagbreek,

die maan hang aan die kant van die môre,

die somer welp –

so en daarom en daarvoor

maak die vrou met die voorskoot haar gereed.

Die stomme aarde: 'n keur

Подняться наверх