Читать книгу Die stomme aarde: 'n keur - Wilma Stockenström - Страница 25
Vraetyd
ОглавлениеIntussen juig ons oor sonsondergange en seë,
skakel verwarmers aan, ry deur knipperende strate,
vredig. Want vroeg het die besef gekom
by ons regeerders om duikbote aan te skaf,
vegvliegtuie, pantsermotors, tenks en projektiele.
Alles word herlei na die trefwoord: verdediging.
In ooreenstemming met die algemene stemming sal ook
ek my aanmeld vir opleiding in noodhulp.
En eendag as ek my eerste gewonde verpleeg,
een potblou dag tussen die puinhope as ek die draagverband
knoop, sal ek hom vra: Hoekom het jy ’n huis gebou?
Een pikswart nag van skouspelagtige ontploffings
sal ek vertwyfeld vra aan die ooglose rekruut: Hoekom
het jy leer lees? En by geleentheid sal ek my betrap
dat ek myself afvra: Vir wie troos jou hande?
As daar geen brood meer is om te bak, geen kinders om te bad,
geen bome om te snoei, waarvoor spalk en verbind
julle dan nog, hande, wat te veel leer doen het?