Читать книгу Ná aan my hart - Christine Ferreira - Страница 10

Ses

Оглавление

In die begin van die lang somervakansie kies ek en die seuns een oggend koers na ’n plaas in die Vredefortkoepel. Die doel van die uitstappie is om ’n drif vol vlinders te gaan opsoek, tyd saam deur te bring en ’n slag weer die stilte van die natuur te ervaar.

Ná maande het dié bekende omgewing nog niks verander nie. Die groen klowe en klipkoppies is nog net so mooi soos altyd. Met die stilhou hoor ’n mens die bobbejane roep.

Kyk, Ek maak alles nuut

-Op 21:5

Ons pak die stowwerige paadjie na Vlinderdrif te voet aan. Dis warm en stil met die gesuis van sonbesies die enigste agtergrondgeluid. Nou en dan roep ’n dassievoël en ’n rooivlerkspreeu wat sorgsaam oor haar nes met kuikens waak.

Dis eers toe ons om die bekende draai gaan dat ek wéét hoekom my hart so na dié plek hunker. Honderde van die fynste vlinders in skakerings van liggeel en lila dartel tussen die lang gras en oral om ons rond. Ons staan stil in verwondering. “Kyk, Ma, kyk al die vlinders,” roep die seuns gelyktydig uit. Dis Vlinderdrif. So mooi soos altyd. Om een of ander rede lok die water in die driffie ’n menigte vlinders. En so, omring deur ’n magdom vlinders, kom die woorde van ’n SMS ná die geboorte van ’n nuwe baba in ons vriendekring in my gedagtes op.

Uit die aardsheid van ’n larwe kom die skoonheid van ’n hemelse vlinder. Uit die dood, weer lewe. Ná gehoorsaamheid, ’n Koninklike beloning. Ek sien die pasgebore klein Arian, veilig toegewoel in ’n katoen­kombersie, in sy ma se arms nestel.

Vader, maak my ’n nuwe mens in U …

“En is ek opnuut dankbaar vir die vryheid om my God te aanbid – net waar en wanneer ek wil.”

Ná aan my hart

Подняться наверх