Читать книгу Ná aan my hart - Christine Ferreira - Страница 11

Sewe

Оглавление

Sally Chow het my eerste na die Bybelstudiegroepie in Hongkong genooi. Sally, ’n Amerikaner, is getroud met Ping, ’n imposante Taiwannees. Hoewel Ping nie gelowig is nie, gaan hy elke Sondag saam met sy gesin kerk toe. Met die Chinese Nuwejaar besoek die gesin hul voorvadertuiste in Taiwan. Dan bid ons saam met Sally vir haar dogtertjies wat verplig word om te buig voor die voorvaderaltaar, soos die Boeddhistiese tradisie vereis.

En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe

-Heb 12:38

’n Foto van jare gelede van die Chows op kamele voor die piramides in Egipte is al bewys wat ek van ons vriendskap oorhet. Tog wonder ek dikwels of Sally se gebede beantwoord is en of Ping al tot bekering gekom het.

Jophie Batista was die leier van ons groep – ’n Filippynse vrou met ’n sterk geloof en diepgaande kennis van die Bybel. Waar sý vandaan kom, is sendelinge dikwels deur bandiete beroof en selfs doodgemaak. Tydens die vier jaar dat ons elke Dinsdag­oggend bymekaargekom het, het vroue van verskillende nasionaliteite gekom en gegaan. Maar dít wat in my hart agtergelaat is, is blywend.

Tydens ’n oggenddiens in ons gemeente is ’n hartroerende video-insetsel oor die vervolgde kerk gewys. Daagliks word twee honderd miljoen gelowiges wêreldwyd vervolg. Hoewel ek niemand ken nie, sien ek daar in die donker voor my geestesoog die gesigte van ou vriende en kennisse, toegewyde Christene in ’n wêreld waar dit dikwels ongewoon (soms pynlik en selfs gevaarlik) is om te glo. En ek is opnuut dankbaar vir die vryheid om God te aanbid – net waar en wanneer ek wil.

Dankie, Jesus, dat ek U in vryheid mag aanbid.

Ná aan my hart

Подняться наверх