Читать книгу Ná aan my hart - Christine Ferreira - Страница 14
Tien
ОглавлениеEk word per e-pos genooi na die oorhandiging van ’n gesogte toekenning in die tydskrifbedryf. Ons tydskrif wen glo ’n prys, sê die vrou. “Dis in die middel van die KKNK; ek is dan in die Klein-Karoo,” probeer ek verduidelik. Ek besef ek sal my dinge maar so moet reël dat ek vir dié geleentheid terugvlieg Johannesburg toe.
… alles kom tot niks, dit is ’n gejaag na wind
-Pred 1:14
Ek beplan haarfyn. My vlug uit George Johannesburg toe vertrek net ná drie die middag. Ek behoort net voor vyf te land – betyds vir die aand se byeenkoms. ’n Halfuur buite Oudtshoorn kom ek agter die omgewing lyk baie onbekend. Daar is nie ’n naambord in sig wat wys waarheen ek op pad is nie. Hier’s moeilikheid. Gelukkig trek ’n minibustaxi by ’n afdraaipad voor my af. Ek hou dadelik stil en vra of dit die pad George toe is. “Néé, mevrou. Jy sal ál die pad moet terug Oudtshoorn toe!”
In George styg ons uiteindelik op en by O.R. Tambo vlot dinge soos dit moet, maar op die hoofweg staan die verkeer botstil weens ’n ongeluk. Ek draai by die eerste afrit af en jaag deur die donker op soek na ’n kortpad. Digby Sandton verdwaal ek ’n tweede keer die dag. Toe ek ’n uur later flou gejaag by die balsaal instap, is alles verby. Kollega Wynand sit met ’n breë glimlag met die goudgeraamde sertifikaat op die leë stoel langs hom. Eers later besef ek watter kosbare les ek uit dié ervaring moes leer. Na góúd hoef ons nooit te jaag nie.
Vader, laat my in die wete rus dat U op u bestemde tyd vir my méér sal gee as waaroor ek ooit kan dink of waarvan ek ooit kan droom.