Читать книгу Ná aan my hart - Christine Ferreira - Страница 13

Nege

Оглавление

Ek en Johan kuier laatsomer in ’n gastehuis op ’n perdeplaas naby Mooirivier. Die laaste oggend van ons kuier staan ons douvoordag op om te gaan kyk hoe die plaas se spogresiesperde oefen. Met ywer pak ons die gemerkte wandelpaadjie aan, tog te bang dat ons die oefensessie misloop. Ons is nie heeltemal seker van ons roete nie, maar dis pragtig buite. Dit het die vorige nag baie gereën en die grond is dik onder ons voete. Heeltemal te nat vir die perde om te kan oefen, besef ons toe ons die oefenbaan bereik. Daar is nie ’n perd in sig nie.

As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop?

-Jer 12:5

Teleurgesteld draai ons om en begin terugstap. Aan die einde van ’n lang laning eikebome hoor ons meteens die gedreun van hoewe. En daar in ’n kamp in die verte sien ons ’n groep merries met hul vullens, uitbundig aan die galop. Onbewus van tyd en plek verwonder ons ons aan die perde se spoed, die krag waarmee hulle hardloop.

Terug by die huis haal ek Eugene H. Peterson se boek oor die lewe van Jeremia, Run with the Horses, uit die boekrak en blaai daardeur. Ek laat toe dat sy woorde en verskeie kantaantekeninge, gekrabbel in potlood, my inspireer en van voor af laat strewe na die beste lewe wat slegs moontlik is deur God se krag en leiding. En terwyl die boom buite ons kamer­venster se groot blare stil-stil begin val, word dit my wens om élke dag, ongeag die omstandighede, dit reg te kry om saam met perde te kan hardloop.

Here, vul my met u krag om hierdie dag met durf en waagmoed aan te pak.

Ná aan my hart

Подняться наверх