Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 10

• VYF •

Оглавление

Haar voete stap nou daagliks met die tuinpaadjie af posbus toe. Die slakke kry minder tyd om aan haar pos te knaag. Al om die ander dag is daar ’n vet brief van Xavier. Die blou koeverte is met die hand geadresseer. Sy ken teen dié tyd sy ronde handskrif en skeur dit sonder huiwering oop. Hul briewe is vriendskaplik, maar êrens tussen die reëls is ’n winkende hand. Aanraking is meer as wat sy in hierdie stadium kan hanteer. Dis meer as wat sy nog ooit kon hanteer. Vandag is daar nog iets in die posbus. Dis ’n tipe dun papier wat nie in die slakke se smaak val nie. ’n Velletjie van die poskantoor: daar is ’n pakket om af te haal.

Die tyd het aangebreek. Sy moet uit. Oor die drumpel, die buitewêreld in. Sy trek klere aan teen die aanslae van die dag. Laag op laag materiaal om haar te weer teen aanraking en indringing. Sy wil graag ongesiens verbygaan, maar hierdie dinge kan ’n mens nie kies nie. Sy is verbaas as dorpenaars haar op straat herken. Sy kan haarself skaars herken. Sy sukkel om gesigte waar te neem. Prosopagnosia of gesigblindheid mag glo die gevolg wees van ’n breinbesering. Die fusiform gyrus is deel van die temporale lob. Hierdie deel van die brein is belangrik in die waarneming van gesigte. Die menslike gesig se proporsies en uitdrukkings gee leidrade in die identifisering van oorsprong, emosionele tendense, gesondheid en sosiale inligting. Vanaf geboorte is gesigte belangrik in die indiwidu se sosiale interaksie. Daarom is sy sosiaal wanaangepas. Daarom, weens die geheueverlies, altyd die assosiasie met ’n bekende gesig. Dit hoef nie ’n presiese ooreenkoms te wees nie; min of meer is goed genoeg vir haar. Hare is die tipe gesig van Vita Sackville-West, die vaagweg-adellike literêre lesbiër aan die rand van die Bloomsbury-groep aan die begin van die vorige eeu. Maar wilder. Sy staan ses voet een in haar plat eskimostewels. Haar hare is gitswart, digte kurktrekkerkrulle tot op haar skouers. Haar neus is lank en krom soos ’n sekel. Sy het ’n groot skelet; sy is tegelyk benerig en breed, vol duike en rondings. Sy het lang hande en voete. Sy drapeer haar van kop tot toon in kleure wat kalmeer: pruim, mosgroen, hawermout, oker, roesbruin, purper. En die finale afronding waarsonder sy nie die dag kan aandurf nie: ’n ertjiegroen fedora met een van Flaubert se stertvere penorent in die band. Sy lyk vreesaanjaend, maar sy kom in vrede.

Sy tel die telefoon op en skakel Claude se nommer. Hy antwoord op die derde lui. “Stofie! Moet jy uitgaan? Tjor is reg vir jou.”

Claude se ekstra motor is ’n stokou Kewer. Die ronde lyne en verroeste chroom grief haar minder as ander karre se kontoere. Claude skop-skop teen die bande en gee die kar nog ’n klappie op die boud, iets wat hy nooit in tien leeftye met haar sal doen nie. Sy trek rukkerig weg. Sy het nie ’n rybewys nie, maar Claude reken sy straal so ’n houding van adellike outoriteit uit met haar lang nek en ertjiegroen fedora dat sy nooit daarvoor gevra gaan word nie. Tot dusver was sy gelukkig.

Bestuur is ’n meditasie, soos klippe pak. Dit fokus. In die straat voor die poskantoor voer sy ’n foutlose parallelle parkering uit, met die eerste probeerslag, selfs al is daar hope parkeerplek. Die gebou is in die breë hoofstraat.

In die poskantoortou wag mevrou Dominee (herkenbaar, want sy lyk soos Winston Churchill) en nog twee vaagweg bekendes uit haar prille jeug (’n onherbergsame landskap) wat sy tog net nie nou wou sien nie – Angela Lansbury en Barbara Bush. Sy skakel haar monitor af, sy gaan in power saving mode. Sy verberg haar neus in die stowwerige goiingsakkie voëlsaad wat sy saamdra om haar te weer teen traumatiese oomblikke. Sy teug dit diep in, soos vlugsout. Sy wieg op haar hakke en neurie toonloos. Die ligte is aan, maar niemand is tuis nie. Screen saver-objekte swem stadig verby.

Uiteindelik is sy voor in die ry. ’n Klein bruin pakkie word deur die tralies gestoot. Dis so groot soos ’n notaboek. Weer die krapskriffie.

Sy prop dit in haar rugsak en stap holrug weg.

Die Neus

Подняться наверх