Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 18

• DERTIEN •

Оглавление

Kwart voor drie was sy voor die stadsaal. Daar was reeds ’n miernes van mense wat op die sypaadjie saamdrom. Haar ergste scenario. Sy het maar haar kop laag gehou, die fedora oor haar oë getrek. Sy het staanplek in die saal gekry. Xavier se praatjie was lank en ja, soort van precious. ’n Bietjie van ’n kaartmannetjie met sy digte haredos na agter gekam, in swart hemp en paisley-krawat. Welluidende stem, geronde vokale, konsonante versigtig omlyn: “In my jongste roman verken ek temas rondom vervreemding en verslingering …” As Claude daar was, sou hy geprewel het: “Hellooo dude, jy skryf soppy love stories. Chillax.”

Sy kon niks herken van die onbevange troebadoer wat sy in sy briewe leer ken het nie. Sy het haar skerp elmboë na buite gedraai vir beskerming en die stormloop getrotseer. Sy het ’n boek gekoop en in die ry geval vir sy handtekening. Sy (verbasend klein) hand het ’n oomblik gehuiwer toe sy haar naam spel. Hy het sy silwer pen neergesit en opgekyk. Toe hy die boek teruggee, het hy vir ’n oomblik opgestaan. Hy moes opkyk na haar. Hy is selfs korter as Claude. Hy het haar gemeet met sy ligblou oë onder ruie goue wenkbroue. Sy het nie dadelik weggekyk nie. Hy het gelyk soos iemand wat ’n spook sien, en die gedaante ontroer hom. Ja, daar was ’n oomblik. Oogkontak. Maar sy verkies sy woorde. In briewe, ongepubliseer. Dit was dan dit.

Agtermiddag sit sy by die kombuistafel en kyk deur ’n vergrootglas na die dowwerige swart-wit foto van die blondekopdogtertjie. Bo die wit koppie is ’n uithangbord sigbaar. ’n Stasie? Die foto is redelik gekantel, asof die fotograaf beskonke of uitbundig gelukkig was. Die uithangbord verskyn naby die linkerkantste boonste hoek van die foto en verdwyn regs bo uit die foto. Net ’n gedeelte van die pleknaam is in die prentjie: EISDOR.

Die vrou wat haar ma was, het besonderhede oor haar verlede en oorsprong suinig bewaar en nooit ’n skreef inligting verklap nie. Aga was ’n buiteruimtelike besoeker wat sonder kompas of paspoort op aarde afgelaai is. Die vrou se chroniese afkeer het haar laat voel soos ’n koekoek wat die nes onwettig beset het. Veral omdat Aga op twaalf al meer as ’n kop langer as sy was. Die vrou het wel soms, in ’n onbewaakte oomblik, wanneer sy gedink het dat sy alleen was, een of ’n halwe woord in Duits laat val.

Tale het nog altyd Aga se hand opgesoek; katte wat gestreel wil word. Sy lees met moeite en geen opleiding Frans, Spaans, Italiaans, Duits en natuurlik Nederlands. Sy vermoed EISDOR moet ’n gedeelte van ’n pleknaam in Duitsland of Oostenryk wees. Sy raai dus dat die naam op “dorf” eindig. Al wat nog kortkom, is ’n paar letters aan die begin van die woord. Sy sit met toe oë en wieg. Sy slaan graag haar tande in raaisels.

Die telefoon se skril kreet versplinter haar konsentrasie. Hoekom betaal sy nog die rekening? Oor hom. Sy tel die gehoorstuk op en luister na sy asemhaling. Keelskoonmaak. ’n Stem met ’n swaar Duitse aksent: “Agathe. Woensdagmiddag om eenuur in die koffiehuis op die stasie in jou dorp.” Klik.

Die Neus

Подняться наверх