Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 24
• NEGENTIEN •
ОглавлениеSy dink minder aan Xavier Vercuyl noudat sy hom in lewende lywe gesien het. Daar was nie vibes nie, soos Claude sou sê. Daar was wel iets tussen hulle, ’n bekendheid. Maar daar was ook ’n hele string vreemde, verwarrende seine. En tog bly sy woorde, elke tweede of derde dag in ’n blou koevert in haar posbus, haar sus.
Sy het meer dwingende kwessies om aan te spreek. Soos Myer Spiewak. Sy kan dit nie meer uitstel nie. Sy gaan staan op haar tone voor die boekrak, haar vingerpunte tastend na die brief bo-op die hoededoos. Dan onthou sy: dit het mos ook agter die boekrak ingeval. Sy stoot en trek aan die rak. Dis van soliede geelhout en dit beweeg nie. Sy sal eers al die boeke moet uitpak. Sy gaan sit op die mat. Verslaan. Môre is nog ’n dag.
Sy sit op die mat en sy voel oë in haar rug. So skerp soos ’n wysvinger is die blik op haar blaaie. Sy swaai haar kop blitsig om. Agter haar neus aan. Wie gee tog om hoe simpel en paranoïes sy lyk, in haar eie sitkamer? Sy vang ’n flits van ’n verrimpelde gesig in die klein, hoë venstertjie. Vel soos geel perkament, deurborende spleetoë. Gemene intensies. Dit alles neem sy in die breukdeel van ’n sekonde in. Die volgende oomblik is die venstertjie leeg, maar teen haar netvlies sien sy nog die negatief van sy kop teen die wit lug. Sy hoor ’n dowwe slag tussen die struike onder die venster. Sy storm uit. Hy kom dronkerig regop en skud sy kop; ’n kat wat in die kombuiskas vasgeloop het. Dis Gollum/Sméagol. Die dwerg wat in die spookhuis op die hoek bly. Die dwerg wat by die stasie op die trap onder haar gestaan het. Is dwerg ooit die polities korrekte term? wonder sy.
Kort bakbene maak oop en toe heining toe. Sy sit hom agterna. Haar langer bene skarnier vinniger. Hy trap vas en spring. Gelukkig is die heining hoog en vol dorings. Hy swets die lug blou in ’n heliumstemmetjie. Brabbeltaal. Sy kry hom aan sy kraag beet, Goliat vir Duimelina. Hy gil hoog, ruk los. Sy bly staan met ’n hand vol leë leerbaadjie. ’n Gesig doem aan die ander kant van die heining op. Claude. Nou is Sméagol tussen die braaipan en die vlamme. Hy loer vinnig oor sy skouer en werp hom in haar arms. Sy dra hom huis toe, haar skoppende bruid, met Claude kort op haar hakke. Sy steier onder sy gewig. Hy is stewig, solied. Hy ruik na salpeter.
Sy gooi hom soos ’n sak aartappels op die mat. ’n Stewelpunt tref haar wangbeen skrams. Dit brand soos vuur. Die volgende oomblik is Claude bo-op hom. Hy pen hom in ’n stoeiersgreep vas. Die dwerg word slap onder hom. Wasbleek.
“O poes,” vloek Claude. “Oeps, jammer, Stofie.”
“Jy het hom verwurg,” merk sy onpartydig op.
“Nooit, dude, ek scheme hy’t gefaint. Freakin’ sissie.”
“Wie weet, dalk werk klein mense se gestelle anders. Dalk is dit nie ’n goeie idee om op hulle lewers te sit nie.”
“Dalk moet klein mense hulle neuse uit ander se besigheid hou, nie premises onwettig betree nie.”
Een gitswart skreefoog gaan oop. Sméagol begin weer swets. Sy neem aan dis swets, want dis in ’n taal wat sy nog nie op hul dorpie of in die biblioteek teëgekom het nie. Claude haal ’n kabelstroppie uit die broeksak van sy oorpak en boei die dwerg se polse. Die voete kan egter nog skop. Sy gaan haal tou in die kombuis en Claude knoop sy bene behendig aan ’n poot van die geelhouttafel vas.
“Nou het ons die kat in die sak, bra, maar wat nou? As ons die cops bel, sal hulle vir ons lag. Praat hy ooit Afrikaans of Engels?” wonder Claude.
Asof hy verstaan, klem Sméagol sy dun lippe styf op mekaar. Geen boe of ba verder uit sy mond nie.
“Wel, of hy wil praat of nie, ons kan hom nie laat gaan nie. Ek het ’n paar appeltjies met hom te skil. Hy was by die stasie …” mymer sy.
“Notch hom net, dude, ek’s nou terug. Ek scheme ek het ’n plan.” Claude hardloop by die deur uit en Sméagol begin met hernude ywer skop. Die swaar tafel beweeg ’n paar sentimenter. Sy het lus en gaan sit weer op sy lewer.
’n Paar minute later hoor sy ’n swaar sleepgeluid buite. Claude is terug. “Kom help my gou om die luiperd cage op die stoep te kry.”
Luiperdhok? Sy vra nie vrae nie. Gelukkig het die toegeboude stoep dubbeldeure. Hulle sleep die swaar hok oor die drumpel. Dit pas net-net deur die deuropening. Hulle skuif dit teen die muur wat nie vensters het nie.
“Bring ’n kombers en ’n emmer, Stofie. Jy het ’n boarder, soos in tot ons antwoorde kry.”
Terug in die sitkamer het Sméagol die swaar geelhouttafel die lengte van die vertrek gesleep en is besig om met geel tande wat nogal skerp lyk, aan die tou te knaag. Claude haal nog kabelstroppies uit en bind sy enkels styf aan mekaar vas. ’n Dik serp soos ’n stang in sy mond en styf vasgeknoop agter die kop, “Vir bytgevaar, bra.” Hy dra die prewelende dwerg na die hok op die stoep. Gelukkig is die tralies dik. Hy gooi hom onseremonieel in en knip die swaar slot toe.
“Ek dink nie dis wettig nie, Claude. Ons is nou amptelik misdadigers.”
“Dude, my immediate worry is, hoe sny ek die cable ties los sonder dat hy my lights out skop en ontsnap? Ek scheme ons los dit maar aan vir nou.”
Soos mense in die dieretuin sit sy en Claude op hul hurke en kyk vir die spartelende dwerg in die hok. Sy lyf wriemel soos ’n wurm wat vloek. Bokant die geruite serp wil sy oë uit hul kaste spring van verontwaardiging. Wat het hulle gedoen?
“Wat doen ons nou?” wil haar buurman weet.
“Ek reken ons gaan deursoek nou die spookhuis op die hoek, Claude.”