Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 13
• AGT •
ОглавлениеDus stap sy maar weer met die leiklippaadjie af posbus toe. Die koevert dra die slakke se goedkeuring weg. Hulle het reeds daaraan begin knibbel. Dis onverseël. Sy haal dit uit en dop dit om. ’n Enkele vel papier val op haar stewel. In die drie sekondes voordat ’n windvlaag dit skep en bo-oor die heining stoot, neem sy ’n mentale foto:
Ek het op 8 Januarie 1990 om 16.30 my ring verloor in Marine Parade in Durban. Vertel my:
1) waarom en
2) hoe ek dit kan herwin.
Jesse, Privaat Sak X 131, Standerton 2430.
Janis Ian het gesing:
Jesse come home,
there’s a hole in the bed
where we slept.
Terwyl sy terugstap huis toe, spook die onseker handskrif by haar. Sy gaan staan botstil. Haar armhare kriewel. ’n Verheldering kom oor haar; die wolke skuif skielik weg en keer die son soos ’n gieter oor die landskap om. Elke voorwerp op die horison is skerp afgeëts. Sy ril. Dit duur ’n paar sekondes. Sy weet skielik:
• Die brief is geskryf deur iemand wat nie kan sien nie;
• Iemand wat ’n arm/hand makeer om die papier waarop hy/sy skryf, vas te hou.
Sy sit by die kombuistafel en skryf ’n brief. Sy is trots op haar handskrif: dis elegant, soos uit ’n eeu toe mense alle take stadiger en met groter sorg uitgevoer het. Sy skryf sorgvuldig, selfs al sal Jesse se oë nooit oor haar handskrif gly nie. Sy skryf:
Jy het meer as jou ring verloor. Jy het jou arm verloor. En jou sig. Eintlik het jy veel meer as jou arm en oë verloor. Ek raai dit was ’n bomontploffing. My gevoel is dat ’n munisipale skoonmaker jou ring in sy sak gesteek het. Hy wou dit verkoop, maar kon nie daarvan afstand doen nie. Hy kyk elke dag daarna. Hy word wel geteister deur skuldgevoelens. Dis ’n lieflike ring – ’n vrou het dit vir jou gegee. Die vrou wat jy in die ontploffing verloor het? Dis waarom jy dit terug wil hê? Ek dink die steen is ’n melkerige seegroen wat soms verdonker en soms ligblou word. Ek sal gaan nalees oor die ontploffing en die nadraai en ek sal jou ring opspoor, verkieslik sonder om te reis.
Sy sit terug en elke sinaps sing, soos altyd wanneer ’n mentale vonk oor verskeie bruggies gespring het.
Nou die nag, dit was maar net nog ’n slapelose nag, het sy gelê en luister hoe ’n skrywer oor die radio riglyne vir geslaagde misdaadromans opnoem. Haar lewe sou nie deug in daardie genre nie. Die leidrade of die gevolgtrekkings in ’n geslaagde misdaadroman mag glo niks met die bonatuurlike te doen hê nie. Nie dat sy reken intuïsie, heldersiendheid en telepatie is bonatuurlik nie. Net ontasbaar.