Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 9
• VIER •
ОглавлениеSy skryf amper daagliks vir Xavier Vercuyl oor baie dinge, maar nie oor die moord wat aan haar krap soos ’n wysie wat sy nie kan klaarneurie nie. Rosalie Schwarzbraun is ’n naam wat haar onderbewuste ken. Dis nie onbekend aan die binnekant van haar oor nie.
Xavier vind in sy besige dag tyd om omslagtig op haar briewe te antwoord. Sy woorde is vol toevallige poësie, insig en begrip. Hulle laat haar die een voet voor die ander sit. Altyd, altyd vind ’n mens maar iets wat dit vir jou moontlik maak om aan te gaan.
Ook: sy pak klippe. Dis terapie en obsessie. Haar agterplaas is vol muurtjies wat na nêrens lei nie. Dis landskapkuns wat nooit in glanstydskrifte gaan pryk nie. Dis vir haar eie heil. Soggens vroeg gaan versamel sy klippe in die rante en steier huis toe met haar oes in ’n groot mandjie. Flaubert verlaat nooit die grense van die erf nie, want buite is honde, katte en ander bedreigings. Hy sit op die hoekpaal en wag, ’n mashoof teen die horison.
Elke klip is met die hand uitgesoek en pas semiperfek in sy holte. Kleure en teksture word afgewissel. Die mosaïek kalmeer haar. Die reuk van klippe en stof lê lekker in haar neusgate. Haar vingerpunte het dit nodig om sekere teksture te voel, oor en oor. Sy dra altyd ’n paar van die sandsteenklippe binnetoe, om te vryf en om aan te ruik wanneer alles te veel word. Om soms aan te lek en die poeierige sand tussen haar tande te voel knars. Flaubert hou haar dop en pik-pik soms vir insekte en sade. Hulle het ’n ooreenkoms: hy mag naby haar wees solank hy nooit skree nie. Die histeriese kreet soos dié van ’n mishandelde kind het sy net een keer gehoor, die eerste dag toe hy hier aangewals gekom het van wie weet waar. Sy het bewend voor hom gaan staan, in sy korreloog gekyk en die ultimatum gestel: “Jy mag hier woon mits jy nooit weer skree nie, nie eers ’n enkele kreet nie.” En hy het nie.
Sy verval stadig in die trans of alfastaat of gekantelde fokus wat haar gunstelingplek op aarde is. Van ver af, deur die verkeerde kant van ’n teleskoop, kyk sy af op haar rooi, skurwe hande. Hulle voel, rol en pak sonder ophou. Haar gedagtes is in ’n ander provinsie, hulle klouter teen ’n ander kliprant uit. Pretoria in die sestigs. Sy weet nie of sy ooit in die destydse Transvaal was nie, maar sy vermoed so. Haar oorsprong is versluier. Haar eerste herinnerings begin hier, in hierdie huis in die Vrystaat, met die vrou, haar ma; ’n flenter senuwee met ’n mond soos ’n aandagstreep.
Om klippe te pak laat die objekte aan die rand van die prentjie in fokus spring. Periferiese visie. Met elke klip wat in sy holte pas, val ’n spatsel van die legkaart in plek, tentatief. Party moet met die hakskeen van die hand ingestamp word.
As sy ’n saak ondersoek, reis sy altyd na die toneel. Meestal in haar kop. Die milieu, die era, die rolspelers word ’n draaiboek in haar brein.
Hierdie saak ruik van die eerste oomblik af bekend. Sy kan nog nie beelde bykom nie, maar reuke, teksture, geluide en smake kleur die chaos stadig in. Sy glip asof vanself in die rol van die Schwarzbraun-baba, haar tydgenoot. Dit was ’n dogtertjie. Sy ruik klam grond en vars brood. Sy spits haar oor vir Rosalie Schwarzbraun se stem. Dis sonlig en lou water. Haar vingerpunte verbeel hulle die sagte vel van ’n binnearm, haar voorkop die veeg van lippe.
Niemand hier het haar so aangeraak nie. Die vrou, haar ma, Marie Gruber, was ’n kaktus.