Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 17
• TWAALF •
ОглавлениеNiemand gaan haar skoppend en skreeuend die 21ste eeu binnesleep nie. Sy stap posbus toe. Sy steek haar hand in die metaalhokkie, lig die brief uit en skud die slakke versigtig af. Dis van Jesse.
Sy skeur dit oop sonder om twee keer te dink.
Jy’s ’n perskeblom. Ja, dit was ’n bom. In die poskantoor, waar ons op daardie oomblik verbygestap het. Ek wil nie daaroor praat nie. Joan is op slag dood en daardie sin lyk nou, amper 17 jaar later, steeds so verkeerd op ’n aarde wat maar aanhou draai. Ja, dis ’n ring. Ek weet nie waarom jou gawe my nie verstom nie. Jy is reg oor my arm. En oë. Dis al, jy hoef nie te gaan soek na die ring nie. Ek weet nou presies waar dit is. Ek het destyds, so gou ek weer op die been was, navraag gedoen oor die skoonmakers op die toneel. Dit was die polisie, nie die munisipaliteit nie. Ek het destyds al, blind soos ’n mol ofte nie, ’n goeie gevoel gehad wie die ring in sy sak gesteek het (ek is ook nie sonder intuïsie nie), maar daar was nie bewyse nie. Ek gaan hom eenvoudig konfronteer en vra om die regte ding te doen, om na sy gewete te luister. Laat weet asseblief hoeveel ek verskuldig is en in watter rekening ek dit oorplaas. En as daar enigiets anders is wat ek vir jou kan doen. Ooit. Ek hou ook daarvan om my kop te gebruik. Ek het ure tot my beskikking vir navorsing en jy sal verbaas wees oor wat ek alles kan bykom. My rekenaar kan praat. Dit voel asof ek jou nog altyd ken. Ek wens ek kon jou handskrif sien. Daar is iets in die ritme van jou woorde, wanneer dit voorgelees word. Ek herken dit. Jesse.
Sy begin maar bou aan ’n nuwe muur wat kronkel soos ’n slang. Miskien pluk daar ’n effense glimlag aan haar mondhoeke; sy voel dit in die spanning van die vel oor haar geboogde neus-brug. Die oggendson streel oor die agterkant van haar nek. Dis ’n draaglike aanraking. Flaubert verjaag ’n mossie van sy halwe appel. Dis die blinkste oggend. Claude loer deur die heining, sien die wêreld is in orde en trek dan sy mopkop terug in sy eie erf. Môre besoek Xavier Vercuyl hul Vrystaatse dorpie. Miskien klop haar hart ’n bietjie vinniger.