Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 21

• SESTIEN •

Оглавление

Xavier het geskryf. Die brief is hier op die dorp gepos. Hy sê daar is ’n stilte rondom haar wat dawer soos ’n waterval. Hy sê sy is ’n formidabele vrou uit een stuk, ’n vorstin van ver. Hy sê hy het haar herken uit vreemdelinge se vergeelde foto’s in pandjieswinkelalbums. Nou maar waarom, in godsnaam, praat die man in lewende lywe soos ’n staatsamptenaar?

Flaubert wip van die skrik vir die telefoon se gekrys.

“Jesse,” sê sy in die optel. Sy het geen naam op ’n selfoonskerm nodig om te weet wie haar bel nie.

“Agathe. Wat van Gleisdorf? In Stiermarke, Oostenryk?”

Sy trek aan, al is dit nie eintlik ’n dag vir klere nie. Sy verlang na die winter, wanneer ’n mens vyf lae klere oor mekaar kan dra sonder om te veel aandag te trek. Dis ook nie ’n dag vir masjiene en enjins nie. Te voet stryk sy flink aan biblioteek toe. Doelgerig. Elmboë en knieë, knieë en elmboë. Miskien bibber haar pouveer in die wind, miskien nie. Sy is diep aan die dink, maar sy is bewus van die figuur wat sy slaan, danksy Claude wat dit al vir haar nageboots het: kop omlaag, arms soos suiers, knieë wat hoog lig en stewels wat met die toon eerste trap, soos die voete van ’n elf. Pocahontas op die oorlogspad. Daisy de Melker gaan dorp toe. Ag, wel.

Die bleek naslaanbibliotekaris is een van haar dam se ganse. ’n Rare voël van ’n koddige planeet. Sy adamsappel is groter as sy dasknoop. Hy knik net plegtig met die kop en knoop geen geselsie aan nie. Sy ken die biblioteek soos die haartjies op haar hand. Boeke is haar beste vriende. Die gewenste boek spring min of meer na haar hand: Österreich im Bild. Sy gaan sit in die leerstoel onder die uitgerafelde potplant en vind die hoofstuk oor Stiermarke: Die Steiermark.

Sy lees en fotografeer.

Die Steiermark (slowenisch Štajerska) ist ein Bundesland der Republik Österreich. Landeshauptstadt ist Graz. Die Steiermark ist der Fläche nach das zweitgrößte, der Einwohnerzahl nach das viertgrößte Bundesland der Republik. Es grenzt an die Bundesländer Kärnten, Salzburg, Oberösterreich, Niederösterreich und Burgenland sowie im Süden an Slowenien. Die Bewohner nennen sich Steirer.

Sy blaai na Gleisdorf en sien ’n foto van Das Rathaus. Blaai om. Die stasie. Sy vergelyk dit met die foto in haar kop. Die uithangbord is soortgelyk, die bergpiek in die agtergrond identies. Gleisdorf in Stiermarke, in die suidooste van Oostenryk. Die 1940’s. ’n Blonde dogtertjie op pad na êrens.

Die Neus

Подняться наверх