Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 8
• DRIE •
ОглавлениеClaude is haar buurman en die naaste ding aan familie wat sy het. Hy is ’n goeie kop korter as sy en stewig gebou, met fris bobene en voorarms. Sy kan net ’n stukkie van ’n persoon op een slag sien. En sy ken Claude al soveel jare dat sy hom nie regtig meer sien nie. Sy het geen geheue vir gesigte nie. Daarom knoop sy gesigte wat sy wil onthou, aan die beeld van ’n bekende gesig. Gesigte op papier, in boeke en tydskrifte, kan sy lees en onthou, want hulle kan makliker afgeneem word: ten minste is die landskap stil, daar beweeg nie verwarrende emosies oor die gelaatstrekke nie. As sy daaroor nadink, sou sy sê Jon Bon Jovi lyk ’n bietjie soos Claude: soos ’n vakerige leeu. Claude is net blasser. Hy is karamelkleurig met liggroen oë en ’n goue mopkop. Sy ma was van Worcester en sy afwesige pa glo van Frankryk. Hy het in kinderhuise en soms in pleegsorg grootgeword. Hy het geleer om vir homself te sorg. Hy is ’n dieselwerktuigkundige en werk vanuit sy oorgroeide agterplaas. Daar is niks wat hy nie kan regmaak nie. Hy hou haar Polyfillavilla met gom en strooi aanmekaar. Hulle is al twee buitestanders op hierdie plattelandse dorpie. Claude is seker in sy dertigs, maar hy tree baie jonger op, met sy Calvin Klein-onderbroeke wat bo sy denims uitsteek en die slang wat hy praat. Sy taal val êrens in die generasiegaping of in die rivier tussen twee provinsies. Hy affekteer graag snarse van sy ma se Kaapse Afrikaans, al was hy nog baie klein toe sy weg is. Hy gebruik sy hande terwyl hy praat en maak fluit-, skarnier- en enjingeluide met sy mond om sy stories lyf te gee.
Sy vermoed ’n paar dae het verbygegaan vandat sy in die hangmat gaan lê het. Nou en dan is daar gapings in haar lewenslyn. Sy kom stadig terug van waar sy was toe sy ’n sleutel hoor draai in die slot van haar voordeur. Dis Claude; hy het sy eie sleutel. Hy gee eers vir Flaubert mielies. Hy skil en sny vir haar ’n papaja. Sy kom regop en vermoed haar japon gly oop, want hy trek die twee punte versigtig bymekaar en sê: “Dude, en dis nie eers my birfday nie.”
Sy praat, die een woord na die ander: “Daar is ’n nuwe moord om op te los. Dis ’n stokou misdaad en dit lui ’n klokkie. Ek vermoed my karige persoonlike geskiedenis het ineens inmekaargetuimel. Ek sal jou nog vertel.”
Claude bring vir haar ’n klip om vas te hou. Klein genoeg om in die palm te pas, lekker growwe sandsteen om oor te vryf. Klein stukkies breek af onder haar vingerpunte. Dit streel haar. Hy rangskik lang skywe rooi papaja soos wielspeke op ’n donkerblou bord. Dit doen hy versigtig. Sy vingers het swart ghries wat nooit weer uit die naelvliese gewas kan word nie.