Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 22
• SEWENTIEN •
ОглавлениеDaar is nuwe intrekkers in die spookhuis op die hoek skuins oorkant haar. Sy en Claude noem dit so, want niemand woon ooit langer as twee maande daar nie. Die huis is verwaarloos en somber met swart leiklip teen die mure vasgemessel. Nou het iemand in die oorgroeide tuin ’n paadjie na die voordeur oopgekap. Daar is soms ’n lig aan in een van die kamers en eenmaal sien sy ’n figuur by die verroeste tuinhekkie. Van ver af lyk hy onnatuurlik klein en geboë.
Sy pak ’n stapel hout en maak ’n vuur in die sementput by die agterdeur. Dis somer en sy eet nie diere nie, maar die vuur is nie vir hitte of kook nie. Vuur is iets wat sy nodig het. Sy sit in die sissende vlamme en staar. Flaubert hou sy afstand. Soos altyd sien sy figure in die brandende hout. ’n Elegante heer in hardebolkeil knipoog totdat ’n honger vuurtong hom in duie laat stort. ’n Bakbeendwerg dans vermakerig totdat sy been ingee.
Beswete van die vuur en met ’n kop vol beelde staan sy onder die koue stort. Sy flans vir haar ’n uitrusting saam om haar te weer teen die dag. Groen en roesbruin. Sy en haar eskimostewels durf die pad stasie toe aan.
Haar (swart) armhare kriewel; antennas wat ondergrondse radiostasies opvang. Heelpad voel sy die teenwoordigheid van iemand agter haar aan, maar dis nie ongewoon nie. Daar is ’n paar mense op straat en sy ervaar maar altyd vervolgingswaan in openbare plekke. Sy slaan haar kraag op en kyk nie een keer oor haar skouer nie.
Die stasie is so oud dat dit Victoriaans lyk; oulik, effens verwaarloos en piepklein, maar dit beslaan twee verdiepings. Die koffiehuis is bo. Op die trap kyk sy tog een maal vinnig om. ’n Paar trappies onder haar waggel ’n krommerige dwerg wat vaagweg bekend lyk. Onder sy pet herinner sy gesig aan Sméagol/Gollum in The Lord of the Rings: ’n stokou kind geteister deur botsende emosies. Hangskouers. Bakbene. Haar buurman! besef sy. Dis die nuwe intrekker in die spookhuis op die hoek.
’n Oomblik van doodse stilte, daardie oomblik in die veld wanneer al die sonbesies ophou skree en die afwesigheid van klank jou ore laat tuit. Die volgende oomblik weerklink ’n gedempte knal. Dit bons van die plafon af. Dit bly in haar skedel eggo. Gejaagde voetstappe dawer. Aan die bopunt van die trap, vyf tree van haar af, sak ’n waardige, bejaarde heer asof in stadige aksie inmekaar. Sy swart hoed val af en sy donker oë kyk reguit in hare. Die oomblik vries, dit duur minute lank. Claude het haar vertel hoe dit voel as ’n mens dagga gerook het; asof tyd elasties is, soos kougom: die werklikheid word ’n outydse film wat teen die verkeerde tempo speel, met die projektor wat kort-kort vashaak en soms vorentoe of agtertoe spring, sodat jy jou draad verloor en nie weet of jy kom of gaan nie. Jy kry glo die gevoel dat jy al die gevoel gehad het dat jy hierdie gevoel het. So is haar werklikheid in elk geval.
Die bejaarde heer se swart hoed val af en sy oë kyk reguit in hare. Dis die jongman op die foto in die vrou, haar ma, se hoededoos, veertig-plus jaar later, sy hare nou silwer. Sy kyk instinktief oor haar skouer. Sméagol is weg. Toe sy weer omkyk, is daar niemand waar oom Myer?/haar pa? oomblikke gelede inmekaar gesak het nie. Hoe lank het sy oor haar skouer gekyk?
Was daar bloed? Sy kan nie onthou nie. Sy kan nie sien nie. Alles begin flikker. Tonnelvisie, die sirkel van sig krimp kleiner as ’n speldekop. Sy sit lank in ’n telefoonhokkie en bewe. Skakel dan Claude se nommer met vingers wat ruk. “Kom haal my asseblief by die stasie. Tweede telefoonhokkie van regs op die eerste vloer. Daar was ’n onaangenaamheid.”