Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 6

• EEN •

Оглавление

2007. Dis ’n wolklose oggend, ’n week nadat Aga Gruber Xavier Vercuyl se eerste brief ontvang het. Sy maak die posbus se deurtjie oop. Altyd met huiwering. Dis stram en weeklaag soos deurskarniere in ’n laebegrotingriller. Op die geroeste bodem lê ’n vet Jiffy-koevert. Die slakke wat in die posbus woon, het reeds daaraan begin knaag. Sy weier om van die slakke ontslae te raak. Hulle het plakkersregte. Die molluske stel meer in die pos belang as sy. Die koevert is sonder seël of posstempel, met die hand afgelewer.

Dis ’n helder dag en sy voel dapper. Sy is immers ’n denker en sy wil skryf en sy ruil al om die ander dag gedagtes uit met een van Afrikaans se gewildste outeurs. Sy skeur die brief oop en spoedlees die onbekende krapskriffie:

Beste Agathe Gruber. ’n Vrou, Rosalie Schwarzbraun, is in 1966 in Villieria, ’n voorstad van Pretoria, vermoor. Die saak is nooit gesluit nie. Hierdie storie is na aan jou vel. Wat ek wil weet is: onthou jy iets? Sommige mense, veral buitengewone mense soos jy, onthou hul eie geboorte. Dink daaroor. Ek sluit koerantuitknipsels in. Verdiep jou daarin en laat jou gedagtes gaan. Dis tyd dat die raaisel lug kry.

1966 is haar geboortejaar. Sy lê op die mat en maak versigtig ’n paar aantekeninge in een van haar notaboeke. Langs haar lê die brief en ’n paar vergeelde koerantknipsels uit die sestigs. En vyf en twintig tweehonderdrandnote wat ook uit die vet koevert gepeul het.

Sy konsentreer om ’n gedagtegang op sy spoor te hou. Treintjie en trokke stoom die stasie binne. Sy wil vasklou aan die spoorlyn, maar die weefwerk van die mat kom vinnig nader. Indiwiduele vesels spring regop soos objekte in 3D-animasieprente. Materie ruk handuit. Elke molekule word reusagtig vergroot en vul die horison. Niks staan stil nie. Sy verloor perspektief. Swaartekrag laat haar in die steek en sy sweef vlak onder die plafon, in ’n poging om afstand te kry.

Die Neus

Подняться наверх