Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 16
• ELF •
ОглавлениеVier foto’s wat nooit aan haar gewys is nie, dwarrel af na die growwe mat. ’n Onmoontlik blonde dogtertjie poseer in ’n wit valletjiesrokkie. Dan weer gestewel en gespoor met wolmus en slee. Die landskap agter haar is uitheems: skerp bergpieke, sneeu, kastele, grasvelde vol blommetjies, ’n meer. Agter op een foto in verbleikte vulpen, in ’n ou Europese sierskrif, die inskripsie: Rosi. Die volgende foto is jare later, in Suid-Afrika, geneem: ’n opgeskote dogter voor die Voortrekkermonument, steeds baie blond en pynlik maer. Dis nie Marie Gruber, haar ma, die vrou wat haar aangeneem het nie. Rosi. Is dit Rosalie? Was sy haar ma? Hoekom is Aga se hare dan raafswart?
Die laaste foto is van ’n man, met donker hare en ’n broeiende uitdrukking. Hy lyk soos Clark Gable met heelwat kleiner ore. Haar hand skulp onwillekeurig om haar eie oor, piepklein. Haar pa? Haar grootoom Myer? Die foto is reg van voor geneem en sy kan nie oordeel hoe groot sy neus is nie, maar in die manier waarop die lig val, is daar wel die suggestie van ’n geboogde brug.
Die hoededoos bevat geen briewe nie. Daar is ’n spaarboekie van ’n bouvereniging wat onlangs gelikwideer is, met ’n balans van R540 655. Daar is haar graad I-skoolrapport: Agathe se lees- en skryfvaardighede is ver bogemiddeld, maar haar sosiale vaardighede is min of meer afwesig. Sy is totaal ongesosialiseer. ’n Spesiale skool sou veel meer geskik wees om haar unieke persoonlikheidsprobleme die hoof te bied.
Die volgende item laat ’n traan langs haar neus afrol. Soos altyd verbaas die nattigheid haar. Sy was nie bewus daarvan dat sy hartseer is nie. Dis ’n houtkruis wat sy in standerd een met ’n knipmes uitgekerf het. ’n Kersgeskenk vir die vrou, haar ma. “Nouja, van wanneer af dra ek miskien halssnoere? Verdomde Rooms-Katolieke het alle geval ons lewens van vroeg af al verfomfaai. Nou goed, dan sê ek seker maar dankie, Agathe. Jy weet ons vier nie Kersfees nie. Dis ’n heidense fees, niks te doen met die ware geboorte van die Heer nie. En dogtertjies hou hulle nie op met knipmesse nie. Gaan doen jou tuiswerk.”
Die voorwerp op die bodem van die hoededoos laat haar koud kry. Dis ’n silwerhangertjie. Sy knip dit oop, natuurlik knip sy dit oop. Binne lê twee opgekrulde haarlokkies, een blond en een raafswart. In daardie oomblik, finaal, skuif die verlede bo-oor die hede, dit sluk die hede met ’n sagte hikgeluid in. Sy en die Schwarzbraun-baba word herenig. Een. Sy was sy. Sy is sy. Aga Schwarzbraun?