Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 25

• TWINTIG •

Оглавление

Op haar stoep broei onheil en buite steek die weer op. Digte donderwolke begin saampak oor die middag.

Om ander mense se huise te betree wanneer hulle nie daar is nie, is ’n skuldige genot. Die eerste gewaarwording is reuk. Sméagol se nes ruik na gebraaide uie en kaaskrulle. Sweet en ongewaste sokkies eerder as groente en liggeel pofferhappies vol wind en MSG? Sy het gelees smaak en reuk verskil van die ander sintuie omdat hulle “chemiese” sintuie is – die leidrade wat hulle na ons brein stuur, is in die vorm van chemikalieë wat in die omgewing rondom ons voorkom.

Die huis is skemerig en benoud. Die woord wat by haar opkom, is die Engelse dismal, een van daardie woorde wat klínk soos die gevoel wat dit oproep; ’n vaal kol op die krop van die maag. Donkergroen volvloermatte dra die reuk en herinnering van ander se ongewaste voete en verspeelde lewens: hondepie en ou sigaretrook. Die enkele meubelstukke wat rondstaan, is moeg en derdehands, waarskynlik versaak deur vorige eienaars wat oornag voet in die wind geslaan het. Twee plastiektuinstoele (een is gekraak) en ’n geroeste tafeltjie met mosaïekblad (duidelik die trotse poging van ’n amateur) staan in die sitkamer, en ’n paar torings van wegneem-pizzabokse en poniekoerante. Is dwergarmpies meer gemaklik met ponieformaat? Is sy onsensitief? Omdat sy nog altyd uitgestaan het soos ’n derde duim, put sy genot uit die bestaan van ander mense wat duidelik buite die norm val. Sy voel soveel minder alleen. Slaan op die tente, voer die olifante, die sirkus is in die dorp.

In die gang is ’n outydse telefoonbankie met ingeboude tafelblad, maar geen telefoon nie. In die kombuis ’n tafel, maar geen stoele nie. ’n Kakkerlak skarrel verskrik onder die enigste kas in. In die voorste slaapkamer is ’n gekarnuffelde sponsrubbermatras (sonder laken of kussing), ’n lae bedkassie met uitheemse pornotydskrifte (is dit Chinees?). Sy is nie lus om daaraan te raak nie, maar op die vetterige glansvoorblad van die boonste een pryk ’n verskrikte Oosterse vrou, naak en oopketel, geboei. In die bedkassielaai is ’n beduimelde notaboekie en gekoude potlood. Die boekie is vol hiërogliewe, geskribbelde Oosterse simbole. Daar is ook ’n half-jack goedkoop whiskey met een sluk oor en ’n velletjie Rennies. En ’n foto van die man op die stasie, wat miskien Myer Spiewak is. Dis ’n meer onlangse foto as die een in Marie Gruber se hoededoos. Sy gesig is effens weggedraai en sy neus is vlesig en gekurf, maar nie in dieselfde liga as Aga s’n nie.

In die agterste slaapkamer, wat nooit daglig sien nie, is niks, net balpuntpen-graffiti teen die muur, ’n enkele woord: motherfucker. Seker die pennevrug van ’n vorige inwoner, want dis redelik hoog teen die muur? In die res van die huis (spens, badkamer, ingangsportaaltjie) is min of meer niks. Die huis laat ’n slegte smaak in die mond. Hier en daar is ’n ruitjie uit, halfhartig vervang met pizzaboks-karton. Scooters en Debonairs, sy aan sy.

Daar is geen ingeboude kaste nie en geen verdere laaie of kabinette om te verken nie. Claude stop die foto (wat miskien Myer Spiewak is) en die notaboek in sy sak. Hulle trek die geswelde voordeur met moeite toe. Buite ruik die bewolkte dag na naderende reën en gesnyde gras, die bure s’n. Hulle teug dit diep in.

Die Neus

Подняться наверх