Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 5

• PROLOOG •

Оглавление

Ek wou altyd ’n skrywer wees. Ek praat in die verlede tyd, want soveel dinge het intussen verander. Mense verander wel. Jy kom by ’n punt waar jy gereed is daarvoor, waar jy jou ou vel ontgroei het en in ’n oogwenk afskud. Die verlede is ’n vreemde land en die mense wat ons eens was, hoogstens vae kennisse. As ek terugkyk op die vrou wat ek was, vind ek haar koddig. Ek is soveel ligter nou. Tóé wou ek ’n skrywer wees. Ek het nooit geweet waar om te begin nie. Mense se motiewe en dryfvere het my verstand te bowe gegaan. Agendas was verskuil, dinamika verbluffend. Miskien was my kinderjare te vreemd. Ek het geen verwysingsraamwerk gehad nie, behalwe boeke, rolprente en die lirieke van populêre musiek. Maar ek het ander gawes gehad. Ek was ’n dingsoeker van beroep, soos Pippie Langkous. Ek het dinge, mense en oplossings opgespoor. Ek het vir myself gewerk en geen visitekaartjies gehad nie. Wat sou ek in elk geval daarop laat druk? Aga Gruber, privaatspeurder? Wie sal hulle wend tot ’n agterplaas- private eye met ’n stoofnaam? Of: Agathe Gruber, denker? Want dit was wat ek gedoen het. Dink. Daaruit het ek ’n lewe gemaak. Soort van. En daarvoor het ’n mens algehele stilte en afsondering nodig.

Helder denke laat mure wegval, dit laat versteekte voorwerpe gloei soos lampies, maar in my geval was daar struikelblokke. Ek was nie gebruikersvriendelik nie. Ek het nukke en hikplekke gehad. Daar was te min random access memory, my programmeertaal was verouderd. Daar was dae wanneer ek nie die swaar, swart telefoon se gekrys kon stil maak deur eenvoudig die gehoorstuk op te tel nie. Daar was dae wanneer ek nie my voet oor die drumpel kon sit na die buitewêreld nie. Dit het my werk as professionele probleemoplosser moeilik gemaak.

Ek het verkies om in my kop te leef. Daar verloop alles ordelik. In die sogenaamde regte lewe was daar in 2007 ’n swetsende dwerg in ’n hok op my sonstoep. Dis ’n ander storie. Nee, dis dieselfde storie.

Het jy geweet daar is die afgelope tien jaar 20 000 moorde in Suid-Afrika gepleeg? En dat net ongeveer 20% daarvan in skuldigbevindings eindig? En dat 70% van alle moorde plaasvind tussen mense wat mekaar ken? Emosionele vertoon laat my koud, maar ek kan feite en syfers waardeer.

Almal van ons probeer lewenslank om moord vry te spring of daarmee weg te kom. Maar lank gelede, lank voor Xavier Vercuyl s’n, was daar ’n ander moord in my lewe. Dis ses en veertig jaar gelede gepleeg, toe moorde nog skaarser was, en dit het my lewe laat ontspoor. Ek gaan jou die “resultaat” van daardie gebeure wys – die Aga Gruber van 2007. ’n Vrou wat nou nie meer bestaan nie.

Die Neus

Подняться наверх