Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 20

• VYFTIEN •

Оглавление

Sy staan in die kombuis. Dis Dinsdag. Dit sien sy op die almanak teen die muur. Dis twee jaar gelede se kalender, maar die prentjie is mooi; ’n foto van die Kaapse skiereiland vanuit die lug. Sy pas dit aan, met inagneming van skrikkeldae. Môre ontmoet sy die stem wat vermoedelik aan Myer Spiewak behoort, die man wat vermoedelik haar grootoom is.

Sy kerf ’n berg okra. Sy skil en verpulp knoffelhuisies. Sny ’n suurlemoen deur. Verhit botter in ’n swaarboomkastrol. Roerbraai die knoffel en okra met suurlemoensap en sout. Skep dit in ’n houtbak en gaan lê in die hangmat. Horisontaal is soveel gemakliker as vertikaal. Om op te hou weerstand bied teen swaartekrag. Sy skarnier die eetstokkies behendig. Sy kou en dink, kou en dink.

Hoe het die vrou, haar ma, Marie Gruber, aan die hangertjie gekom? Het sy vir Myer Spiewak geken? Waarom het hy dit as vermis aangegee? Waarom het Marie Gruber dit nie aan die polisie oorhandig nie?

Sy weeg die stuk antieke juweliersware in haar palm en fokus. Sy swaai dit heen en weer soos ’n hipnotis. Heen en weer. Heen. Weer. Dit werk. Die dag begin vervaag. Haar ooglede sak halfmas en agter die sluiers word alles verblindend helder. ’n Stokou herinneringsprentjie doem op. ’n Boesem wat aan haar behoort soos haar eie lyf, maar apart. Die reuk van naeltjies. Die reuk van varsgebakte brood en klam, donker grond. Die hipnotiese flikkering van die hangertjie wat swaai tussen klein borste. ’n Vet handjie wat daarna tas; haar hand. Twee lettergrepe: “Schat-zi.”

Sy druk die hangertjie teen haar eie boesem. Dit het aan Rosalie behoort. Haar ma.

Die Neus

Подняться наверх