Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 7
• TWEE •
ОглавлениеDie radio op die boekrak is aan. Sy hoor die omroeper se stem asof van ver: “Dink daaraan, luisteraars: advertensieagentskappe en politieke propagandiste spandeer ’n fortuin om ons almal se warm knoppies te vind, daardie skakelaars wat onder ons vlakke van bewussyn versteek is, wat ons besluitneming vorm terwyl ons vasklou aan die idee dat ons ’n ingeligte keuse maak en onderskeidende verbruikers is.”
Sy is ’n donsveer; die radiostem laat haar loskom van die plafon. Sy daal stadig neer, terug aarde toe. Word weer bewus van die growwe mat onder haar wang.
Sy lees die die ou koerantberigte en memoriseer in die lees. Haar geestesoog neem foto’s. Sy het geen skandeerder of program wat ’n word search kan doen nie, maar haar metode werk goed genoeg. Later knyp sy haar oë toe en spoedlees die berigte totdat die woord of frase waarna sy soek, uitspring. Sy onthou waar dit gestaan het, in die hoeveelste kolom hoe ver van onder op watter bladsy, links van watter foto. Dis ’n gawe, soos party mense wat hul neus met die punt van hul tong kan raak.
Sy lees oor die raaiselagtige dood van ene Rosalie Schwarzbraun van 28ste laan, Villieria, Pretoria, in Oktober - 1966.
Rosalie het saam met haar baba in ’n huis teen die hang gewoon. Wie die kind se pa was, is onbekend. Daar was ’n trust waarvan Rosalie se oom die eksekuteur was. Haar enigste verwant.
Op 16 Oktober 1966 tref Rosalie se oom, mnr. Myer Spiewak, haar dood tussen die bamboese agter die huis aan. Sy was verwurg. Sy was nie verkrag nie en al wat vermis word, is die hangertjie met twee haarlokke daarin wat sy om haar nek gedra het.
Rosalie het afgesonderd gewoon. Daar was geen vriend, geliefde of tuinier om te verdink nie. Dit het daardie oggend gereën en in die klam grond van die bamboesbos was haar eie voetspore en die spore van haar oom wat op haar afgekom het, asook ’n onbekende voetspoor, van ’n sportskoen. Die laaste twee pare voetspore is later gemaak, toe die grond al droër was. Selfmoord is uitgeskakel – dis onmoontlik om ’n mens se eie lewe met jou kaal hande te neem. Daar was geen verdagtes nie, behalwe mnr. Spiewak. Die polisie het hom eindeloos ondervra. Die huis was die laaste teen die hang, die hoogste huis. Daar was ’n redelike afstand tussen hulle en die huis onder hulle, en die enkele huis langsaan was in daardie stadium onbewoon.
’n Stokou boosheid steek voelers uit na die klein haartjies in haar nek. Die gebeure is nie los van haar lyf nie, het die briefskrywer gesê. Sy lê in die hangmat op die sonstoep. Die pou, Flaubert, staan op die staanlamp langs haar skouer. Sy maak haar oë toe en probeer die huis teen die koppie visualiseer. Sy sien net ’n dowwe koerantfoto. Sy lê en fokus tot sy in ’n halfslaap verval. Sy hoor uiteindelik vaagweg ’n stem. Dis al wat sy kan bykom; ’n stem wat streel. Sy besef dit was nog altyd daar, ’n klankskadu in haar binneoor. Dan, uit die bloute, ruik sy grond: klam, donker aarde. Dit maak haar koud. Flaubert kom sit op die hangmat langs haar, sy groen stert vol pers oë ’n millimeter van haar lyf af.