Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 12
• SEWE •
ОглавлениеSy skeur al Xavier se briewe sonder huiwering oop. Sy raak vertroud met die kamers in sy kop. Sy herken die argitektuur soos ’n herinnering wat in ’n droom ingebou is. Sy was nog nooit daar nie, maar dis bekend. Sy probeer selfs sy boeke lees, maar sy gooi dit telkens teleurgesteld neer. Nee! wil sy gil. Jy kan stukke beter skryf. Dis nie jou ware stem dié nie!
Daar was ’n ander koevert ook in die posbus. Bruinpapier. Handgeskrewe. Weer die krapskriffie. Die slakke het die afsender se adres agterop heeltemal weggevreet. Sy het dit binnetoe geneem en bo-op die hoededoos, bo-op die boekrak gesit. As ’n mens ’n professionele probleemoplosser is, maak dit die lewe nogal moeilik as jy dit omtrent nooit kan regkry om koeverte oop te skeur nie.
Sy lê in die hangmat. Sy lek aan haar gunstelingklip van die oomblik. Sy wieg en wik en weeg. Sy voel vreemd gerus, asof sy reeds ’n hele boel leidrade opgestapel het, asof die oplossing net-net buite haar bereik lê en wag vir die oomblik wanneer sy gereed is om twee en twee bymekaar te tel. Sy is nog nie gereed nie. Sy sien dit uit die hoek van haar oog, maar is nog nie bereid om haar kop in daardie rigting te draai nie. Sy weet wel dit sal haar in die nag oorval, dit sal skielik vanuit die niet in haar blinde kol opdoem. Sy soek eers ’n ander, ondergeskikte raaisel om haar aandag af te lei van die kolos op die horison.
Wie kan dit verklaar? So was dit nog altyd; wanneer sy iets roep, kom dit na haar toe. Op daardie oomblik skel die telefoon. Sy hou dit teen haar oor. Meestal sien sy nie kans om haarself eerste aan te meld nie. Dis ’n manstem, of altans, so klink dit. Wie kan seker wees? Soos gesigte, dryfvere en hiërargieë, slaan geslag haar dronk. Die spanning, die spel, die jag, die oorgawe. Dis alles Grieks vir haar.
“Agathe Gruber? Dis Jesse. Ek het van jou gehoor en ek benodig jou dienste. Ek is op soek na iets kosbaars wat ek sewentien jaar gelede verloor het. Daar is miskien reeds ’n brief in jou posbus terwyl ons praat, maar ek reken jy gaan dit nie oopmaak nie. Moenie vra hoe ek weet nie. Daarom het ek nie die koevert toegeplak nie. Keer dit net in jou hand om en lees dit een maal vinnig deur. Ek hoop ons praat weer, Agathe.”