Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 14

• NEGE •

Оглавление

Sy gaan kuier langsaan by Claude. Dit gebeur nie elke dag nie. Hulle sit op sy dek, die houtdek wat hy met sy eie hande gebou het. Hy skink appelsap uit ’n groen kartondoos van Pick n Pay. Hy weet sy hou van vars en organies en hy is ’n goeie gasheer, of ten minste, hy probeer. Sy reken hy weet daar is iets wat sy nodig het, anders sou sy nie deur die gat in sy heining geklouter het nie. Hy glimlag van oor tot oor. Soos hy dit sou stel: hy lyk amped. Hy buig en verklaar: “Dis ’n voorreg om ’n alien princess te verwelkom.” Sy kyk langs haar lang neus af na hom en probeer onthou hoe om te glimlag. Haar gesigspiere steur hulle nie gewoonlik aan haar brein nie. Sy reis soms na ander provinsies om in stowwerige argiewe na antwoorde te gaan soek, maar indien dit enigsins moontlik is, verkies sy om in haar eie agterplaas brûe in haar kop te bou. Soms met die hulp van haar buurman se rekenaar.

Hy is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hy is cool. “Dude, is daar iets wat ek vir jou kan raaksurf of -hack?” wil hy weet.

Sy hou van goeie begrypers. Sy sit ’n velletjie papier voor hom neer. Daarop staan:

28ste laan 283, Villieria, Pretoria, rondom 1966. In wie se naam was die eiendom geregistreer? Inwoner Rosalie Schwarzbraun. Huurder of eienaar?

Sy onthou haar maniere. “En is daar dalk iets wat ek vir jou kan bykom?” vra sy, asof sy in ’n spens op ’n trapleer voor ’n rak staan. Hulle glo in quid pro quo.

Claude, opportunis, antwoord blitsig: “Môre se Lotto-nommers?”

Sy skreef haar oë teen die agtermiddagson, wieg ’n paar keer en praat stadig, vir dramatiese effek, want Claude waardeer ’n vertoning: “Jy weet nommers is nie my spesialiteit nie. Twee verskillende enkelsyfers wat met ‘s’ begin, drie wat met ‘v’ begin, twee daarvan ’n enkele syfer, een daarvan twee syfers waarvan al twee met ‘v’ begin. Dan nog een wat met ‘n’ begin, dubbelsyfer.”

Hy maak vinnig aantekeninge terwyl sy praat. Hy vlieg sommer op en stap rekenaar toe. Hulle is nie gesteld op formaliteite en etiket nie. Sy streel oor die gladgeskaafde oppervlak van sy dek. Dis sonder vernis; hy gee dit gereeld olie, met groot toewyding. Sy tuin is oorgroei, maar hy het sy eie, gekompliseerde standaarde. Flaubert staan op die heining vir haar en loer.

Die Neus

Подняться наверх