Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 11
• SES •
ОглавлениеSy het daaroor nagelees. Narsiste het intense, onstabiele emosies en ’n verwronge selfbeeld. Hierdie persoonlikheidsafwyking word verder gekenmerk deur ’n abnormale selfliefde, ’n oordrewe meerderwaardigheidsin en ’n obsessie met sukses en mag. Maar hierdie houdings en gedrag weerspieël glo nie ware selfvertroue nie. Dit bedek eerder ’n diepgesetelde gevoel van onsekerheid en ’n fragiele selfbeeld, dikwels die gevolg van kleintyd-trauma. Marie Gruber, haar ma.
Sy weet nou sy het spore nodig. Leidrade na haar eie oorsprong. As sy wil reis, moet sy uiteindelik weet waar sy begin het. Sy staan op uit die hangmat op die stoep en marsjeer vasberade die gang af. Sy staan vir ’n goeie tien minute voor die vrou, haar ma, se kamerdeur en wieg. Flaubert wieg langs haar. Mini Me. Sy draai die dowwe koperdeurknop. Dis koud in haar palm, plek-plek ingeduik, met ’n wit verfspatsel of twee op. Die kamer is skemerig en koel. Dit ruik na viooltjies, ’n geur wat sy met wreedheid assosieer, versag deur die reuk van stof, wat sy liefhet. Hier het sy as kind nooit haar voete gesit nie. Elke haarborsel is op sy plek in hierdie versteekte mausoleum. Sy is op haar eie: Flaubert weier om dit oor die drumpel te waag. Sy stap vir die eerste keer in jare binnetoe. In hierdie kamer in wat die hele huis vergiftig soos ’n siek nier. Die lug vibreer asof histeriese alarms geluidloos skel. Sy neem vyf vinnige treë tot by die hangkas. Sy strek haar arms uit en haal die verbode hoededoos af. Sy ruik mottegif en verbittering.
Met haar buit by haar voete sit sy op die sonstoep en wieg. Sy maak haar oë toe. Sy laat die sonstrale haar van buite na binne verwarm. Daar is rykdom in oomblikke. Flaubert draai sy rug op die hoededoos.
Sy dra uitgerafelde geheime saam waaroor sy nie met Xavier kan praat nie. Die vrou, haar ma, het selfmoord gepleeg toe Aga in standerd nege was. Dit was haar laaste skooljaar. Dit was die begin van die vryheid. Moet haar nie vra wat in die jare tussenin gebeur het nie. Sy was groen en verlore. Sonder grootmense. Verligting het haar duiselig gemaak. En die dae het verbygefladder tot hier, vandag. Een en veertig jaar oud. Middeljarig, as ’n mens gelukkig of ongelukkig genoeg is om te leef tot tagtig. Darem is daar die strale van die son, warm vingers op ’n wintersoggend.
Die vrou, Marie Gruber, was manies oor privaatheid. Niemand het haar geken nie. Sy het haarself ver van die huis kortgeknip, in ’n hotelkamer op ’n kusdorpie, waarheen sy jaarliks alleen met vakansie gegaan het. Met ’n hele jaar se voorskrifsusmiddels. Kan iemand, êrens, ooit genoeg gesus word?
Die koelte het die sonkol ingesluk. Genoeg daarvan. Sy prop die spoke van die verlede terug in ’n kas in haar kop. Marie Gruber se kamer gaan sy nie weer betree nie. Sy raap die hoededoos op en gaan bêre dit bo-op die boekrak in die sitkamer, net-net buite haar bereik. As nagedagte gooi sy die poskantoor se pakkie agterna. Onoopgemaak. Dit vlieg bo-oor die hoededoos en gly agter die swaar boekrak in. Gits.
Die telefoon krys. Sy weet wie die beller is. Sy tel dit met die eerste lui op en luister. Reëlmatige asemhaling. Die ritme daarvan ontstig haar nie. Sy luister ’n rukkie en plaas die gehoorstuk terug. Dis ’n jare lange ritueel.