Читать книгу Die Neus - Deborah Steinmair - Страница 4
• NOTA •
ОглавлениеHet jy geweet: Die mens se linkerneusgat kan reuke baie beter opvang as die regter. Maar dis nie waaroor ek wil praat nie. Ek wil jou vertel van die jaar toe ek in my lyf geklim het. Dit was 2007, toe ek en Xavier Vercuyl, een van die Groot Vyf van Afrikaanse romansiers, penvriende was. En meer. Dis ’n lang storie.
Dis nou nie asof hy Etienne van Heerden of Deon Meyer was nie. ’n Mens kan ons korrespondensie kwalik vergelyk met die diep briefwisseling tussen die jong Ingrid Winterbach en meester Etienne Leroux, maar dit het my belangrik laat voel. Xavier, soos jy weet, is die manlike Dalene Matthee. Sy romans is skaamteloos emosioneel en roer die volk se hartsnaar. Sy tema is liefde.
Ek wou ook ’n skrywer wees. Elke tweede mens het mos ’n manuskrip onder die kopkussing. Ongelukkig is dit gewoonlik presies waar dit moet bly.
Jy weet seker hoe Xavier gelyk het. Afrikaanse skrywers, dié met internasionale agente, dié van wie se boeke Exclusive Books en CNA meer as een of twee eksemplare op die rak aanhou, trippel deesdae net een trappie onder popsterre. Hul Facebook-profiele wemel van foto’s van hul boekbekendstellings, paneelbesprekings, prysuitdelings en ski-uitstappies in die Alpe. ’n Ski-pak het Xavier helaas geen gunste bewys nie. Hy was mos maar aan die korterige kant, skraal van been, met maag en bors rond soos ’n kropduif. Hy het nogal sterk getrek op Hollywood se Bridges-broers: nie die aantreklike Jeff nie, maar die valer Beau. Dis sy woorde wat my verower het, eerder as sy silwerblonde haredos.
Ek praat nie van sy woorde op YouTube of in onderhoude nie. Laat ons maar eerlik wees: Xavier kom oulik oor, in die slegste sin van die woord. Wat die Engelse precious noem. Hy het by geleentheid (ek krimp ineen van verleentheid) aan ’n joernalis van Huisgenoot gesê: “My voete maak vuisies van lekkerkry.” Dit was ’n besliste laagtepunt.
Xavier se woorde in my posbus het ’n ander storie vertel. Hulle was rou en polsend, gedompel in volkspoësie, soos Bertolt Brecht se kroegverse. Hulle het my verbeelding uit die wegspringblok laat vlieg voordat die afsitter se pistool geknal het. My Xavier was soveel meer as die blitsverkoper op die rakke van lughawe-boekwinkels.
Intussen het vyf jaar verbygegaan en ek voel diep in my maag dit het tyd geword om te praat oor sy dood. En my aandeel daarin. Eintlik was dit maar ’n kort hoofstuk in ’n lang en stokou verhaal.
Só het dit begin: Ek het na vele probeerslae ’n kortverhaal op LitNet, dié Afrikaanse literêre speelgrond, gepubliseer gekry. Vir iemand soos ek was dit nogal ’n uitdaging om in die kuberruim gehoor te word: ek het nie ’n rekenaar besit nie en het met die hand in oefeningboeke geskryf wat ek nog op skool vasgelê het. Na meer as twee dekades was die blaaie geel. En op my ma se stokou tikmasjien wat ek geërf het. ’n Remington, swart en regop, met ronde toetse wat diep in die nag weerklink. Maar met die hulp van my buurman Claude is die verhaal gedigitaliseer en weggestuur. Drie dae later ontvang ek ’n brief, per slakkepos, gedruk, wat eindig met ’n enkele naam, met die hand geteken, in klein letters: Xavier.
Natuurlik het hy kontakte by LitNet gehad, om my posadres in die hande te kry. In die brief wens hy my geluk met die kortverhaal en steek hy voelers uit na my lewe. Nuuskierig soos ’n skoolseun. Daar was natuurlik, soos gebruiklik op LitNet, ’n klein biografie en foto’tjie van my by die kortverhaal (weer danksy my meer digitale buurman). Beide nogal oninspirerend, glo my. Miskien is daar iets verkeerd met Xavier se oë, het ek gedink. Of miskien het hy ’n ding vir lang, donker vroue met haakneuse en die spesmaas van ’n snor.
Daardie jaar was oorvol. ’n Beknopte kamer vol nuwe mense en ou raaisels. Rakke vol hoededose, teeblikke en sigaarbokse. Alles gedurig in beweging. Deure wat oopmaak op kamers vol spieëls. En ek was totaal ontoegerus om die intriges te hanteer. Ek begin voor.